SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade…
DAG 7 – GOD SE LIEFDE VIR JOU IS PERSOONLIK!
1 Pet 5:6-7 [NLV] Word daarom klein onder die kragtige hand van God; op sý tyd sal Hy julle groot maak. Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om.
Daar is te veel gelowiges wat hulle eie bekommernisse dra. Dit is omdat ons God as ‘n abstrakte vêr God sien. Ons is ook soms te vol van onsself en ons opinies oor God. Om Sy persoonlik liefde te kan ervaar moet ons op Hom kan vertrou, ons self klein maak en God Sy regmatige plek in ons lewens kan laat inneem. Dan kan jy jou bekommernisse aan God oorgee as Hemelse Vader wat werklik vir jou lief is. Weet dat as jy God aanroep dat Hy jou Sy aandag wil gee met al die hemelse hulpbronne om ons mee te ondersteun.
God wil by jou alledaagse lewe betrokke wees sodat jy voluit vanuit Sy genade kan lewe. Moenie iets eenkant toe skuif as onbenullig nie, want dan sê jy by implikasie dat God nie vir jou omgee nie.
Luk 12:7 [NLV] Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dus nie bang wees nie; julle is vir Hom meer werd as ‘n hele swerm mossies.”
Jy maak soveel vir Hom saak dat tot jou hare (en vir julle wat nie het nie) ook saak maak! Die boodskap is dat God meer vir jou omgee as wat jy kan dink. Niks is te groot of te klein vir die Here om nie belang te stel in jou lewe nie. Sy liefde is intens persoonlik! Hy is en wil by meer as net jou saligheid betrokke wees. Dit is die lewe binne die genadeverbond! Hy wil jou totale lewe raak en Sy guns in jou lewe laat beleef.
Joh 10:3 [NLV] Hy roep sy eie skape op hulle name en lei hulle uit. Hy ken jou by jou naam, Hy stel intens in jou persoonlik lewe belang en Sy onverdiende genade omvou jou, beskerm jou en lei jou na sukses.
Gebed:
Vader dankie dat U my persoonlik lief het, dat U in elke detail van my lewe belangstel en dat U, U genade aan my wil openbaar in elke aspek van my lewe. Ek vra op grond van U genade dat U my vandag sal lei en beskerm en my sal help om klein te bly sodat U groot kan wees in my lewe. Ek gee U al my bekommernisse en weet dat U vir my sal sorg.
Oordink:
God gee intens vir my om en Sy liefde vir my is persoonlik en in detail van wie ek is en beleef.
