SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade
DAG 10 – DIT IS DIE KRAG VAN GOD AAN DIE WERK
Rom 1:16-17 [NLV] Vir hierdie Goeie Nuus is ek allesbehalwe skaam. Dit is immers God se krag wat hier aan die werk is. Dit bring verlossing vir elkeen wat glo – heel eerste vir die Jode, maar ook vir die nie-Jode. 17 Hierdie Goeie Nuus maak bekend dat God ons van ons sondes vryspreek. En dit gebeur enkel en alleen deurdat ons glo. Soos die Skrif sê: “Elkeen wat vrygespreek word omdat hy glo, sal lewe.”
Dit is goeie Nuus, die beste wat jy ooit kon hoor! Dit is iets waaroor ons met geloof kan praat want ons het dit eerstehands ervaar! As jy nog nie die belewenis van hierdie goeie nuus beleef het nie is vandag beslis ‘n geleentheid om dit jou eie te maak.
God se krag kom in ons lewens aan die werk, die oomblik wat ons glo dat Jesus in ons plek gesterf het en ons Hom aanneem as ons Verlosser en Saligmaker. Hierdie krag maak ons vry van die mag van sonde en verlos ons van die vloek van die wet. Gal 3:13[NLV] Christus het ons losgekoop van die vloek wat op wetsoortreders rus toe Hy vir ons ‘n vervloekte geword het. Daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan ‘n paal hang.
Nou kan ons leef sonder enige veroordeling en aanklag. Ons kan fokus op Jesus wat die werk vir ons gedoen het sodat ons geregverdig kan staan en daarom dinamiese groei beleef omdat ons nie fokus op wat verkeerd was of is maar op Hom wat die goeie werk in ons sal klaarmaak.
Ons gedeelte sê: “Elkeen wat vrygespreek word omdat hy glo, sal lewe.” Jou lewe begin nou! Jy swoeg nie meer om God te beindruk. Jy steier nie meer onder die las van sonde. Jy vrees nie meer omdat die verhouding tussen jou en God volkome herstel is. Nou kan jy vir die eerste keer waarlik voor God lewe en die lewe saam met jou Verlosser geniet. Die Afrikaanse Ou Vertaling sê: “die regverdige sal deur die geloof lewe”.
Nou is die krag van God aan die werk in jou lewe en jou lewe word vanaf slawerny van die sonde verander na oorwinnaar wat die seën en die guns van die Here beleef en sien!
Gebed:
Ek maak vandag my lewe oop dat U kragtig in my kan werk. Dankie dat U my Verlosser is en dat ek die vrug daarvan opnuut vanaf hierdie dag sal sien en beleef. Help my asseblief om nooit hiervoor skaam te wees nie en om dit in geloof met ander te deel. Ek bely vandag dat ek dit glo en dit sigbaar sal uitleef.
Oordink:
Leef jy onder veroordeling of as regverdige wat glo dat Jesus jou verlos het?
