DAGSTUKKIES – Dag 13

SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade

DAG 13 – VERTROUE OP JESUS

Rom 3:22 [NLV] God spreek ons vry wanneer ons op Jesus vertrou om ons sonde weg te neem. Ons kan almal hierdie vryspraak ontvang, maak nie saak wie ons is of wat ons gedoen het nie.
Rom 3:22 [AOV] die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie

God spreek jou vry! Dit is die wonderlikste nuus wat ons as gelowige ooit kan hoor. Die groter nuus is dat almal hierdie vryspraak kan ontvang. Dit maak nie saak wie jy is nie, uit watter familie agtergrond jy kom nie. Jou status in die samelwing geld nie as dit by geregtigheid kom nie. Jou foute wat jy begaan het diskwalifiseer jou nie. Kyk wat se God deur die profeet Jesaja in Jes 1:18 [NLV] “Kom nou, laat ons die saak uitpraat,” sê die Here. “Maak nie saak hoe diep die vlek van julle sonde is nie, Ek kan dit verwyder. Ek kan julle so skoon maak soos sneeu wat pas geval het. Selfs al is die vlek so rooi soos purper, Ek kan julle wit maak soos wol.”

Geen wonder dat die liedere digter skryf GENADE ONBESKRYFLIK GROOT!

Verstaan net wat die geregtigheid van God is, dis nie iets wat jy kan bewerk nie. Jy ontvang dit deur geloof in Jesus Christus. Daar is geen onderskeid oor wie en wat jy is en wat jy al gedoen het nie. Moenie ooit glo dat daar een saak te groot is wat tussen jou en God kan staan nie. Die prys is vir al jou sonde is betaal. Geen sonde kan staan voor die krag van die bloed van Jesus nie. Verklaar dit daagliks dat Jesus se bloed my gereinig het van al my sonde en dit maak nie saak waar ek vandaan kom en wat ek al gedoen het nie. Gaan vandag en maak hierdie as ‘n geloofsdaad in jou lewe vas. As daar iets is wat nog pla, bely dit en glo dat dit vir eens en vir altyd hanteer is!

Gebed:
Vader, ek dank U dat U geen onderskeid maak tussen mense nie. Dankie dat my agtergrond geen rol speel wanneer dit by U genade kom nie. Ek verklaar dat ek glo dat Jesus al my sonde weggeneem het en dat ek geregverdig is deur U. Dankie Vader.

Oordink:
Genade onbeskryflik groot vir my en ek glo dit!