DAGSTUKKIES – Dag 14

SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforeerde Ritme van Genade

DAG 14 – AMAZING GENADE

Dit is konstant die vraag in mense se harte. Dit klink te goed om waar te wees dat ek niks kan doen om my saligheid te bewerk nie. Hier is jou aandeel, jy moet GLO! Lees nou aandagtig. As jy die gemiddelde
Suid-Afrikaner vra of Hy in Jesus glo sal jy meer as 70% keer ‘n JA kry. Daar is die wat glo dat Hy wel ‘n historiese figuur was, ‘n morele filosoof, charismatiese leier of profeet. Ander sal glo dat Hy wel die Verlosser van die wêreld is, maar dis waar hulle geloof eindig. Baie glo dat hulle behoort aan ‘n Christelike kerk en daarom is hulle gered. Die hartseer is dat niks hiervan iemand sal red nie.

Kom ons stel dan vas wat dit beteken om te glo in Jesus. Om in Jesus te glo, beteken in die eerste plek, dat jy Hom ontvang in jou lewe as jou Here en Verlosser wat vir jou gesterf het op die kruis vir al jou sonde. Om in Jesus te glo, is om te glo dat Jesus die enigste weg na Saligheid is en dat as jy Hom ingenooi het in jou lewe ontvang jy die GAWE van die ewige lewe. Verder, en die feit is vir jare nie deur die kerke verkondig, glo jy bo enige twyfel dat Jesus die straf vir al jou sonde gedra het. Jy glo dat Hy nooit weer daaraan dink nie.

Jy moet met jou hele hart glo dat God se Woord waar is.

Heb 8:12 [NLV] Ek sal My ontferm oor julle ongeregtighede en Ek sal nooit weer aan hulle sondes dink nie.”

In hierdie nuwe verbond van genade is jou taak om te glo. Glo dat die bloed van Jesus jou gereinig het van alle sonde! Glo in jou kindskap. Glo in die afgehandelde werk van Jesus aan die kruis.

Gebed:
Vader, ek dank U dat AL my sonde, alles, gewas is in die bloed van Jesus. Help my verstand om dit te snap en my hart om dit te glo. Dankie dat U nooit weer daaraan dink nie. Dankie dat goedheid en guns my volg net waar ek gaan.

Oordink:
Glo net!