DAGSTUKKIES – Dag 17

SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade

DAG 17 -VRYSPRAAK DEUR GENADE

Gal 2:21 [NLV] Ek verwerp nie dié genade van God nie. As dit moontlik was om deur God vrygespreek te word deur die wet te onderhou, het Christus mos verniet gesterf!

Baie gelowiges beskou geregtigheid as ‘n lys van dinge wat hulle reg doen en as hulle faal dat hulle “ongeregtig” is. Dit is ‘n verkeerde begrip van God se genade. Ons is geregverdig as gevolg van wat Jesus aan die kruis gedoen het. Christus het vir ons sonde geword sodat ons geregverdig kan wees en dit is slegs deur genade. Dit is ‘n totale genadedaad van God se kant af.

Ons is as kinders geleer dat jy aanvaarbaar sal wees as jy sekere voorskrifte by die huis of die skool nakom. Dit is deel waar ons verkeerde begrip van genade en geregtigheid vandaan kom. God is nie opsoek na edel werke,
self-opofferende dade wat die vlees streel om ons verhouding met Hom te bepaal en te versterk nie. Hy stel slegs belang in Jesus se nederigheid aan die kruis toe Hy uit genade ons sonde op Hom geneem het en ons sonde van ons af weggeneem het. Daarom kan ons nie ‘n klomp reëls daar stel en dink dat dit ons saligheid kan bewerk nie.

As jy deur jou werke gered kan word was God se genadedaad om Jesus in jou plek te laat sterf tervergeefs. Dan verloor die hele Nuwe Testament sy impak en die hele werklikheid van die kruis as genadedaad word bloot ‘n mooi storie van geen waarde.

Regverdigmaking is deur die dood van Jesus aan die kruis alleen. Jesus se offer was meer as genoeg om jou te regverdig en as geregverdigde kan jy verseker wees van God se onverdiende genade elke dag in jou lewe.

Gebed:
Vader ek dank U vir U genade en dat my geregtigheid nie gebasseer is op een van my werke nie maar uitsluitlik op U genade. Dankie vir wat Jesus vir my aan die kruis gedoen het. Dankie dat ek my kan berus op Sy afgehandelde werk. Dankie vir U onverdiende genade wat my regverdig verklaar!

Oordink:
My geregtigheid is slegs gebasseer op wat Jesus vir my gedoen het deur Sy genade