SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade
DAG 18 – WAT GLO JY?
Rom 5:1-2 [NLV] As mense wat deur God vrygespreek is omdat ons glo, het ons nou vrede met God op grond van wat Jesus Christus ons Here gedoen het. Deur Jesus Christus het ons, deurdat ons glo, toegang verkry tot hierdie heerlike posisie van genade waarin ons ons nou bevind, en ons jubel vol verwagting oor die heerlikheid wat God aan ons gaan gee.
Geloof in die afgehandelde werk van Jesus gee nie net aan ons vryspraak nie. Dit gee vrede met God. Dit is wonderlik om te kan weet dat die verhouding tussen jou en God bestaan op die basis van vrede. Niks wat pla, niks wat skeiding bring nie. Nou is ons in ‘n nuwe posisie met God. Paulus beskryf dit as ‘n posisie van genade. Dit gee bo en behalwe dat ons nou die seën en voorspoed van die Here kan beleef aan ons ‘n toekoms verwagting.
In die nou kan ons begin glo in die guns en seën wat saam met die regte stand met God gepaard gaan. Om geld uit ‘n OTM te trek moet jy ‘n wagwoord hê en ken. Om die guns van God te ervaar is die wagwoord van geloof! Ek moet begin glo dat ek nie net ‘n produk van my omstandighede is nie. Ek moet begin glo in die guns van die Here in my lewe. Ek moet begin glo dat die gedagtes wat die Here vir my koester, volgens Sy woord, van voorspoed en nie teëspoed nie en dat Hy jou ‘n hoopvolle toekoms wil gee.
Ek het van staat verander, van verlore sondaar na die posisie van kind van God wat gereed is om Sy guns en genade in my lewe te smaak. Die woord leer ons dat Jesus sê: As julle dan wat sleg is weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Hemelse Vader aan julle gee.
Die vraag is wat is jou verwagting? Jou verwagting word bepaal deur wat jy glo. Mense glo dat dit met hulle sleg moet gaan, ander glo dat slegte dinge in drie’e moet plaasvind, ander glo dat hulle gestraf word vir foute begaan. Glo vandag dat jy ‘n vrygespreekte kind van God is onder die nuwe verbond wat insluit dat die Here my sal seën en sal beskerm en met my sal wees en dat ek vanuit sy Genade sal leef en Sy vrede sal beleef!
Gebed:
Vader, vestig hierdie waarheid deur U Heilige Gees in my hart asseblief. Ek bely dat ek geseënd is omdat ek vrygespreek is en daarom kan ek verwag dat U my sal seën en U grote genade op elke terrein in my lewe sigbaar sal word.
Oordink:
Ek sit in ‘n nuwe posisie, ek het ‘n toekoms.
