DAGSTUKKIES – Dag 19

SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade

DAG 19 – VRYSPRAAK ONTVANG JY – GLO DIT

Fil 3:9 [AOV] … in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof …

Die genade van God is nie iets wat jy voor kan werk nie, verdien of ‘n stel reëls voor nakom nie. Wanneer God na ons uitreik in ons meer onverdienstelike oomblik, besmet met sonde is dit GENADE.

In ons menswees verdien ons niks goed nie. Omdat ons die geregtigheid van God is deur Jesus se werk aan die kruis sal God ons seën en Sy guns laat ervaar. Ons aandeel is nie om te sukkel nie, maar om te glo.

Ons moet begin glo in die volmaakte werk wat Jesus vir ons gedoen het. Ons is totaal geregverdig. Daar is geen sweempie van die verlede en van ons foute wat God teen ons hou nie. Hoe meer ons bewus is van ons geregtigheid, hoe meer sal ons God se onverdiende genade ervaar.

Jy is wat jy oor jouself glo of wat jy mense en die vyand sal laat glo. Daar is nie een teks in die hele Nuwe Testament wat na die gelowige verwys as ‘n sondaar nie. Wanneer die aanslag van geestelike minderwaardigheid kom en die aanklaer jou vertel jy is nie waardig nie, maak jou geloof net weer opnuut vas in die werk wat Jesus vir jou gedoen het en wandel daarin. Die rede hoekom ons dit kan doen is omdat ons geregtigheid nie uit ons is maar vanuit God is en ons glo die Woord wat dit aan ons verklaar.

Hierdie is ‘n geveg van geloof. Die geveg van geloof is om te veg teen die gedagtes en aanslae wat jou na werke wil vat en jou op jou mislukkings wil wys en aan te hou glo in die volmaakte werk wat Jesus vir ons gedoen het. Paulus was wetsgehoorsaam vers 6 van Fil 3 “Wat wetsgehoorsaamheid betref as metode om my saak met God reg te maak, was ek onberispelik!” maar hy het geleef dat dit nie sy saligheid kan bewerk nie en se: “Ja, om Christus Jesus, my Here, te ken is só wonderlik dat ek alle ander dinge as ‘n verlies beskou.” Daar is net een pad. Jy moet glo dat jy vrygespreek is op grond van die werk wat Jesus aan die kruis gedoen het en dat Hy jou verhouding met God herstel het. Jy moet dit elke dag vasmaak in jou geloofslewe.

Gebed:
Vader, dankie dat ek net hoef te glo. As ek faal hoef ek net te glo, as ek wen hoef ek net te glo! Dankie!

Oordink:
Glo en fokus op jou geregtigheid deur God, daagliks!