SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade
DAG 29 – DAAR IS KRAG IN DIE BLOED VAN JESUS
Efes 1:7 [NLV] Deur sy geliefde Seun is ons verlos deurdat Hy sy bloed vir ons gestort het. Ons oortredings is vergewe omdat God die rykdom van sy genade in oorvloed aan ons gegee het.
Die liefde van God vir ons het Jesus in ons plek laat sterf! Hy het die prys van sonde, die dood in ons plek gedra. Jesus het die totale prys van sonde aan die kruis gedra weens Sy buitensporige liefde vir ons. Dit was Sy liefde wat Hom vir ons laat ly het.
God sê in Sy Woord dat Hy nooit weer aan ons sonde sal dink nie. Die rede hiervoor is dat daar met ons sonde gedeel is aan die kruis. Die prys wat moes betaal moes wees, is betaal. Ons moet begin glo dat God se liefde ons kwytskeld van enige vorm van skuld en dat Hy ons nooit weer daaraan sal herinner omdat Hy nooit weer daaraan dink nie.
Daar is krag in die bloed van Jesus om jou van alle sonde te reinig. Die vyand haat hierdie werklikheid en sal jou aan God se liefde en genade wil laat twyfel. As die vyand jou kan laat twyfel aan God se liefde en jou van sonde bewus kan hou sal jy nooit geestelike oorwinnings kan behaal en geestelik bereik wat jy moet nie. Ons oortredinge is vergewe omdat God die rykdom van sy genade in oorvloed aan ons gegee het.
Die vyand sal jou ook aan die leuen laat probeer glo dat jy nie ten volle verlos kan wees nie. Ons is verlos! Ons is verlos deurdat Hy sy bloed vir ons gestort het. Die prys is betaal, dit is ‘n afgehandelde werk van buitensporige liefde. Die bloed bedek nie ons sonde nie, dit was dit weg. Hy neem ons sonde van ons af weg en ons hoef nie langer daarin te lewe en daaraan herinner te word nie.
Die wonder van God se liefde word ons deel as ons glo! Glo dat Jesus in my plek die prys van sonde betaal het deur Sy bloed en my kind van God gemaak het.
Gebed:
Vader, dankie vir U buitensporige liefde vir my. Dankie dat daar nie soos in die bloed van bokke en stiere herinnering van sonde is nie, maar dat die bloed van Jesus vandag alles van my verlede weg was en dat ek skoon en geregverdig voor U staan. Dat al my sonde van die verlede, die hede en die toekoms mee gedeel is! Vandag staan ek voor U as vergewe, geliefde kind van God en ek is dankbaar.
Oordink:
Omdat die bloed van Jesus my gereinig het van alle sonde verwag ek die onverdiende genade van God daagliks in my lewe.
