DAGSTUKKIES – Dag 9

SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade

DAG 9 – GENADE TRANSFORMEER ONS

Jes 43:4 [NLV] Omdat jy vir My kosbaar en belangrik is, omdat Ek jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, in ruil vir jou lewe.

Sal u met my saamstem dat die gemiddelde Christen van vandag meer weet van die 10 gebooie (die wet) as van die nuwe verbond van onverdiende GENADE en ‘n staat van om geregverdig te wees voor God? Ek dink inteendeel, as ons iewers in die stad gaan staan en onderhoude voer met mense sal die meeste al gehoor het van die 10 gebooie (die wet) , maar niks sal weet van die verbond van GENADE en die nuwe verhouding wat hierdie GENADE bewerkstellig het nie. Is dit nie tragies dat Christenskap uitgeken word aan die wet wat sy doel gedien het en nie deur onverdiende GENADE wat die kern is van die nuwe verbond?

Dit is geen wonder dat ons ‘n hele geslag jongmense verloor aan die wereld nie! Die wet het geen aantrekkingskrag vir enige mens wat na God soek nie. Heb 8:13 [NLV] Deur van ‘n nuwe verbond te praat het God die vorige een as uitgedien verklaar. En wat uitgedien is en steeds nog verder verouder, staan gereed om heeltemal afgeskaf te word. Die wet het geen krag om sonde stop te sit nie. Die wet kan nie die identiteit van Christus in jou lewe vestig nie. Die wet kan jou nie help om sonde te wen, versoekings te weerstaan en ‘n nuwe lewe te lei nie. Net God se offer aan die kruis kan hierdie transformasie in jou lewe bewerkstellig.

Snap vandag dat jy kosbaar is in God se oë, dat Hy jou liefhet, dat jy vir Hom belangrik is en word verander van binne na buite deur Sy onverdiende GENADE! As jy jou waarde kan snap in die lig van God se GENADE, wat Jesus in jou plek laat sterf het, sal jy nooit weer dieselfde kan wees nie. As hierdie begrip van God se GENADE van jou kop na jou hart beweeg word jou wese daardeur aangeraak! Bonatuurlik word jou begeertes anders, jou waardes verander, en jou wil om anders te lewe word in jou lewe gebore. Dit is die transformerende krag van God se GENADE wat dit in ons lewens bewerk.

Gebed:
Vader, ek dank U dat ek ‘n nuwe skepping is in Christus Jesus. Al my sonde is deur U GENADE uitgewas en ek is U kind. Dankie dat ek vir U kosbaar is en dat U my met onverdiende GENADE lief het en Jesus in my plek laat sterf het sodat ek getransformeer kan word om anders te begin lewe! Dankie dat U my intens liefhet en die werk in my sal klaarmaak! Ek het U lief.

Oordink:
Ek word deur God bemin, ek is kosbaar in Sy oë en Hy het ‘n wonderlik plan vir my lewe.