DANKBAAR
Dag 1
Romeine 7:4 – Deur julle verbondenheid met die liggaam van Christus het julle gesterwe en staan julle nie meer onder die wet nie. Julle behoort nou aan iemand anders, aan Hom wat uit die dood opgewek is. Daarom moet ons nou ’n vrugbare lewe lei in diens van God.
Jesus het op aarde Sy liggaam vir ons op die spel geplaas. Hy het swaar lyding aan Sy liggaam beleef en uiteindelik sy liggaam prysgegee ter wille van ons verlossing.
As deel van die kerk, wat vandag Jesus se liggaam op aarde is, is dit nie die plek waar ons wegkruip vir die wêreld nie, maar eerder die invloedryke voertuig ná die wêreld. As ledemate van die gemeente moet ons vrugbare lewens lei in diens van God. Dít is ’n lewe van dankbaarheid, ’n lewe wat so bewus is van Jesus se liefde om my te verlos en deel te maak van Sy liggaam, dat ek, gestroop van myself, werklik met oorgawe kan lewe, en doen nét wat die Hoof van die liggaam van my vra.
’n Hart vol dankbaarheid word sigbaar in elke optrede: Wanneer ek stilbly, selfs wanneer ek verkeerdelik beskuldig word; wanneer ek ongesiens en onaangekondig aan iemand anders goed doen, of opstaan vir sy/haar goeie naam; om te kies vir eerlikheid en die waarheid, en dan so te praat en so op te tree. ’n Vrugbare lewe in diens van God is ’n konstante groeiproses en nie ’n sporadiese, lukraak, wanneer-dit-my-gemoed-en-die-situasie-pas optrede nie.
.
’n Invloedryke lewe is ’n leefstyl wat aangevuur word deur liefde en in stand gehou word deur dankbaarheid.
Gebed:
Here Jesus, ek wil al meer U beeld in my lewe vertoon deur nederig en vrugbaar in diens van U en u kerk te lewe. Amen.
Liefde Doen:
Vind iemand in die gemeente wat moedeloos is, en bewys aan hom/haar ’n goeie daad uit jou dankbaarheid teenoor Jesus.