Liefde Doen – Week 3 Dag 1

ONVERDIENSTELIK
Dag 1

Markus 5:25-34 – Daar was ook ’n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. 26 Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger. 27 Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, 28 want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. 29 En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was. 30 Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het. Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?” 31 Sy dissipels het Hom geantwoord: “U sien tog dat die mense van alle kante af teen U druk, en dan vra U nog: Wie het aan My geraak?” 32 Hy het rondom Hom gekyk om te sien wie dit gedoen het. 33 Die vrou het geskrik en gestaan en bewe, want sy het besef wat met haar gebeur het. Sy het toe voor Hom op haar knieë kom val en vir Hom haar hele geskiedenis vertel. 34 Daarna sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!

Baie keer dink ons as gelowiges, ons is nie waardig om genade te ontvang nie. Dit is asof ons, soos die Joodse vrou, dink dat ons slegs waardig genoeg is om net gou, sonder dat iemand ons sien, aan Jesus se kleed te vat en hoop ons word genees. Maar dit is juis dan wanneer ons moet besef dat ons waardig is. Nie omdat ons dit verdien nie, maar omdat God vol genade is. In die Joodse kultuur sou iemand soos hierdie wat bloeding het, gesien word as onrein. Iemand met wie jy nie in aanraking mee moet kom nie, anders is jy ook onrein. Sy sou uit die gemeenskap gestoot word en as vuil behandel word.

Dit is juis hier waar sy in haar desperaatheid vra: “Wie gaan my help en bystaan?” waar ons sien dat Jesus genade bewys en haar genees. Net so is dit met ons: God sien ons nie as iemand vuil wat weg van Hom beweeg nie, nee, Hy bewys eerder guns aan ons of ons dit verdien, of nie. Daarom moet ons onsself afvra: “Is daar dalk iemand wat ek wegstoot van Jesus omdat ek besluit het hulle is nie genoeg nie?”, en onsself herinner dat God hulle ook liefhet.

’n Invloedryke lewe is ’n leefstyl wat genade bewys aan almal, waardig of onwaardig.

Gebed:
Here, help ons om nie verby ander te kyk nie, maar hulle raak te sien. Mag onverdienstelike genade deur ons vloei

Liefde Doen:
Neem in hierdie week ’n oomblik waar jy aan die mense in jou lewe dink. Vra jouself af of daar dalk iemand is wie jy weggestoot het, omdat jy gevoel het hulle is dit nie waardig nie. Bid dan vir daardie persoon en vra dat God jou help.