Liefde Doen – Week 4 Dag 3

REGTE SKAAL
Dag 3

2 Korintiёrs 3:5-6 (OAV) – Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God, wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n Nuwe Testament, nie van die letter nie, maar van die Gees; want die letter maak dood, maar die Gees maak lewend.

’n Kliënt stap by ’n apteek in en vra die apteker of hy sy foon kan leen. Die apteker kan nie help om die volgende gesprek te hoor nie:

‘’Hello Meneer, Ek wil net hoor of u ’n tuinwerker benodig? O, u het reeds ’n werker. Is u tevrede is met hom? Dankie Meneer. Ek wou net seker maak.’’

Die apteker vra die jongman uit oor die gesprek. Sy antwoord het die apteker verbaas.

‘’Ek wou net seker maak dat ek bekwaam genoeg is in die oё van my werkgewer.’’

Hier is die goeie nuus, jy is geweeg en bekwaam gevind in die oё van God. Ek en jy is na God se beeld geskape. Elkeen met ons unieke gawes en talente.

Ons gebruik nie altyd dieselfde meetinstrument as God om onsself te meet nie. Wanneer ons ons liefde meet, voel dit soms dat ons liefde kortkom. Meeste struwelinge en onderonsies is as gevolg van ’n lae selfbeeld of gevoelens van minderwaardigheid. Dit maak ons moedeloos en steel al die joy uit die lewe. Ons fokus bly op onsself.

Wanneer ons, ons journey van genade verstaan en dat ons in God se oё gewig dra, sal ons aan die kant van liefde leef.

God se onfeilbare Woord is die enigiste veilige meetinstrument. Ons is deur dit wat Christus aan die kruis vir ons gedoen het, bekwaam gemaak en kan invloedryk liefde leef. Doen liefde aan die Een, aan ander en aan jouself, uit dankbaarheid vir God wat liefde vir ons gedoen het.

Ek het altyd gedink ek dra nie genoeg gewig nie, maar nou weet ek, op God se skaal is ek geweeg en bekwaam gevind.

Gebed:
Here, ek dank U vir U liefde wat vir my genoeg is en dat ek bekwaam gemaak is. Help my om deur U oё na myself te kyk en in liefde te leef.

Liefde Doen:
Kyk in die spieёl en sê vir jouself dat God het jou geweeg en bekwaam bevind het
.