Liefde Doen – Week 1 Dag 3

DANKBAAR
Dag 3

1 Tessalonisense 1:2-3 (NLV) – Wanneer ons bid, dank ons God altyd vir almal van julle. 3 Ons onthou voortdurend hoe julle geloof dade word, hoe hard julle liefde julle laat werk en hoe julle aanhou hoop op ons Here Jesus Christus. In ons gebede noem ons hierdie dinge voor God ons Vader.

Twee vriende was deur ’n woestyn onderweg toe hulle in ’n argument betrokke raak. Een het so meegevoer geraak dat hy in sy woede sy vriend deur die gesig geslaan het. Die een wat geslaan is, buk toe af en skryf in die sand: Vandag het my vriend my geklap.

Nadat hulle ’n hele ent verder gestap het, kom hulle by ’n oase. Toe hulle in die water gaan om af te koel, blyk dit ’n moeras te wees. Die een wat vroeër die hou deur die gesig gekry het, het in die modder vasgeval en sou verdrink het as sy metgesel, wie se woede nou heeltemal bedaar het, hom nie uit die water getrek het nie.
Nadat hy herstel het van die skok, staan hy op en kerf met sy mes op ’n klip die woorde uit: Vandag het my vriend my lewe gered.

Die man wat sy vriend in woede geslaan het maar hom tog later uit die moeras gered het, sê toe verbaas: “Toe ek jou geslaan het, het jy dit in die woestynstof geskryf, maar nou teken jy dit op in graniet. Hoekom?”
Die vriend se antwoord was: “As iemand jou seermaak, skryf dit in stof, sodat die wind van vergifnis en vergetelheid dit kan toewaai. Wanneer iemand aan jou goed doen, kerf dit uit in klip, waar geen wind dit weer kan uitwis nie.”

Dankbaarheid word gebore in ’n hart wat die goeie van die verlede onthou, nie soseer dit wat ander aan jou gedoen het nie, maar meer spesifiek, dit wat Jesus déúr ander vir jou gedoen het. Met dank word ander se geloofsdade onthou, en God kry die erkenning, dank en eer.

Dankbaarheid is die geheue van die hart.
– JB Massieu

Gebed:
Here, ek dank U vir elke persoon wat aan my goed gedoen het. Help my om te vergeet waar ander my te na gekom het. Amen.

Liefde Doen:
Skryf ’n gebed waarin jy God dank vir ’n spesifieke persoon se weldaad aan jou. Begin met die woorde: “Ek dank U, God, vir …… se goeie daad aan my, toe (gee ’n kort beskrywing van die weldaad) (vgl. Filemon 4-5). Stuur die gebed per WhatsApp vir die betrokke persoon.