DAGSTUKKIES – Dag 22

SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade

DAG 22 – RAAK BEWUS VAN JOU STAND – GEREGVERDIG DEUR GOD

Fil 3:9 [NLV] Ek probeer nie langer my saak met God regstel deur die wet te gehoorsaam nie, maar deur in Christus te glo. Deur die geloof stel God ons saak met Hom reg.

Die genade van God wat my verhouding herstel tot een wat geregverdig (asof ek nooit sondig was nie) is onverdiend, gratis en verniet. Wanneer God by ons lewens dan betrokke raak, wanneer ons dit menslik gesproke die minste verdien, is dit genade wat aan die werk is omdat ons geregverdig is. Hier lê die probleem. Ons voel soms vêr van God vanweë ons gebrokenheid. Ons voel soms ons verdien die stryd en swaar vanweë foute wat ons begaan het. Dit is juis hier waar ons moet weet dat niks wat ek doen of kan doen en beslis niks wat ek nie doen , God se beweging in my lewe verdien nie.

Ek staan nou in ‘n verhouding met God in my lewe en ek weet dat ek geregverdig is en dat God daarom altyd by my is. Ons ontvang hierdie nuwe “status” deur die geloof. Ek moet hierdie geloof in my hart laat groei sodat ek vanuit hierdie nuwe posisie kan begin lewe en die voordele daarvan kan begin geniet. Ons verkeer te veel in ‘n “staat” van die Here is nie by my nie. Ek is geregverdig deur God en Hy is nou altyd by my. Die Bybel leer ons dat die regverdige sal deur die geloof lewe. Ek moet dus bepaal: wat glo ek?

Hier is die basis van my geloof dan as Nuwe Verbond kind van die Here: Ek is gewas in die bloed van Jesus en my sonde is van my weggeneem. Ek is ‘n bloedgewasde kind van God en Hy woon permanent nou in my deur Sy Heilige Gees en ek is GEREGVERDIG (asof ek nooit sonde gedoen het nie). Ek bekom dit deur te glo en nie deur werke nie. Ek hoef dan nou nie meer sondebewus te lewe en elke keer in die struikelblokke daarvan te beland nie, maar kan eerder van U bewus lewe en in die oorwinning wat daarmee gaan begin lewe. Hoe meer ek bewus is van my stand van geregtigheid , hoe meer ervaar jy God is onverdiende genade!

Gebed:
Vader, dankie dat ek ‘n nuwe status het, dat ek nie meer ‘n sondaar is nie, maar U kind. Dat ek voor U mag staan omdat Jesus al my sonde van my weggeneem het en ek nou in ‘n nuwe verhouding met U staan waar U nooit vêr is of van my wegdraai. Help my om elke dag met hierdie bewustheid te lewe en die wenne deel van my lewe te maak. Dankie dat U hierdie verhouding vir my moontlik maak. Dankie dat dit nie van my gehoorsaamheid afgehang het nie, maar bewerk was deur Jesus se totale gehoorsaamheid aan die kruis van Golgota.

Oordink:
Ek kan altyd God se guns beleef, selfs in die tye wat ek voel ek dit nie verdien nie.