DAGSTUKKIES – Dag 6

SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade…

DAG 6 – GENADE IS DIE VERTREKPUNT

Rom 2:4 [NAV] Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?

Die feit dat ons by God se familie kon aansluit en kan deel in sy goedheid is alles net GENADE. God werk met ons deur Sy GENADE en gebruik dit wat in ons lewens aangaan om met ons te praat en Sy liefdevolle Vaderhart aan ons te openbaar self al is ons besig met ons eie paaie. Dit is nie God wat slegte goed op ons paaie bring nie, maar selfs in dit kom Hy en praat in liefde met ons en wil ons lewens raak deur Sy GENADE sodat ons kan omdraai en Hom kan dien.

God is lief vir jou ongeag van wie jy is en wat jy doen of gedoen het. Daarom is die vertrekpunt van ‘n verhouding met God nie waar jy tans is nie, ook nie waarvandaan jy kom nie maar dit is GENADE en GENADE alleen. Jy kan intimiteit met God beleef waar jy nou in jou journey met God is. Christenskap is ‘n intieme verhouding met ‘n liefdevolle GENADIGE God wat met jou ‘n pad wil loop.

Die verandering in jou lewe begin as jy van Sy genade bewus word. Jou lewe begin van binne na buite verander en dinge wat pla val af. Dinge wat jou weerhou het om in vryheid te leef se mag word deur GENADE verbreek en jy kom agter dat dit net nie meer ‘n houvas op jou het nie. Onthou dit is nie Jesus plus nog bevryding en nog bande nie! Sy genade plaas jou op ‘n journey waar jy wen vanuit Sy liefde en krag wat in jou lewe werk. Jy het net nodig om daagliks bewus te begin lewe van Sy krag, genade en liefde wat in jou aan die werk is.

Saligheid is nie ‘n stel reëls en ‘n leer van werke wat jou nader aan God bring en jou heilig maak nie. God het Christus deur Sy GENADE in ons plek laat sterf sodat ons nou vry kan leef, verander kan word, oor ons gebrokenheid kan kom en vry kan lewe.

Gebed:
Vader, dankie dat U ons nie ‘n stel reëls gegee het om na te kom nie, maar dat U ons geroep het tot ‘n liefdevolle verhouding met U. Ek wil U net beter leer ken elke dag en meer en meer bewus van U genade leer leef en daardeur verander word. Openbaar asseblief U hart en liefde aan my vandag, sodat ek elke uitdaging en versoeking in die krag van U genade met vertroue en boldness kan wen!

Oordink:
Dit is God se GENADE wat my lewe verander