SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade
DAG 15 – JESUS HET SONDE GEWORD SODAT EK GEREGVERDIG KAN WEES
1 Kor 5:21 [AOV] Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.
Geregtigheid beteken eenvoudig om in die regte verhouding, volgens God se standaard met Hom te staan. Dinge tussen my en God is reg en dit hang nie van my werke af nie, maar van die feit dat Jesus in my plek gesterf het en ek dit glo. Die Nuwe Lewende vertaling sê dit so: “God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons, sodat ons, op grond van ons hegte verhouding met Christus, deur God vrygespreek kan word.” Om geregverdig te wees is God se standaard. Die wet kon dit nie vir ons bewerk nie, aangesien ons bloot net slawe van die wet geword het wat dit nie kon onderhou nie.
Paulus beskryf hierdie probleem in Rom 8:3-4 [NLV] Die wet van Moses kon ons as gevolg van ons sondige natuur nie verlos nie. Daarom het God sy eie Seun met ‘n menslike natuur soos ons sondige menslike natuur na ons toe gestuur om as offer vir ons sonde te dien. Daarmee het Hy afgereken met die sonde in ons menslike bestaan, 4 sodat ons kan voldoen aan die vereiste van die wet. Jesus het Sy plek as die seun van God wat sonder sonde was prysgegee en ons sonde op Hom laat neerkom sodat ons geregverdig kon word. Nou is ons sonde van ons af weggeneem. Jesus het dit gedra vir eens en vir altyd en ek en jy kan vir altyd leef as mense wat die vereiste van die wet nagekom het op grond van die feit dat Jesus in ons plek gesterf het.
Deur Jesus se dood, die betaal van die vloek van sonde het Hy vrede tussen ons en God bewerk. Deurdat Hy sonde geword het, ons sonde gedra het staan ons nou in ‘n hegte verhouding met die Vader en ervaar ons Sy genade daagliks in ons lewens.
Gebed:
Here, dankie dat Jesus vir my sonde geword het. Dankie dat ek nou geregverdig is en aanvaarbaar voor God staan. Dankie dat my lewe nou as gevolg van die dood van Jesus en Sy bloed wat gevloei het nou skoon is en dat my sonde van my af weggeneem is. Dankie dat ek nou in ‘n hegte verhouding met Christus kan staan en deur God totaal vrygespreek is. Dankie dat my verlede geheel en al verby is.
Oordink:
Ek is skoon gewas deur die bloed van Jesus en ek is geregverdig.
