DAGSTUKKIES – Dag 16

SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade

DAG 16 – GEREGTIGHEID IS ‘n GESKENK MAAR DIT WAS DUUR

Jes 53:5 [NLV] Hy is geslaan en gepynig ter wille van ons sondes. Hy is gestraf sodat ons in vrede kan leef. Hy is geslaan sodat ons gesond kan word.

Mense het al in rolprente probeer voorstel wat Jesus moes deurgaan tydens Sy lyding voor en op die kruis. Toe Jesus in Getsemane gaan bid het, het Hy reeds die benoudheid van die verskrikking van wat Hy moes deurgaan, beleef. Dink aan die Romeinse soldate wat Hom gevange geneem het en Hom geslaan het en ‘n doringkroon op Sy kop ingeslaan het. Sien die sweep met glasstukke en hale wat Sy liggaam verbrysel het. Jesus het dit deurstaan omdat Hy geweet het dat deur Sy wonde is ons genees.

Sy foltering het voortgeduur toe Hy die balk van ‘n kruis moes dra en die lang spykers deur Sy gewrigte en voete geslaan was sodat Hy aan die kruis kon sterf. Kyk hoe beskryf die Amplified Bybel ons reaksie op geregtigheid as ons dit deur werke wil bekom. Gal 2:21 [AMP] 21 *Therefore, I do not treat God’s gracious gift as something of minor importance and defeat its very purpose]; I do not set aside and invalidate and frustrate and nullify the grace (unmerited favor) of God. For if justification (righteousness, acquittal from guilt) comes through [observing the ritual of] the Law, then Christ (the Messiah) died groundlessly and to no purpose and in vain. [His death was then wholly superfluous.]
Jesus het ons sonde en gebrokenheid op Hom geneem en in ons plek aan die kruis gesterf sodat ons kan word die geregtigheid van God. Sodat ons kan wees asof ons nooit sonde gedoen het nie. Hierdie geskenk ontvang ons slegs deur te glo in die genadedaad van God in Jesus se kruisdood, dis verniet! Ons kan niks doen om dit te verdien nie. Dit is God se liefde vir ons en Sy genade geopenbaar aan ons. Dit was beslis nie goedkoop nie. Dit was die dood van die Een sonder sonde.
Rom 11:6 [NLV] En as dit uit genade is, dan was dit sekerlik nie op grond van hulle goeie dade nie – anders sou die genade nie meer werklik genade wees, dit wil sê dit wat ons teen alle verdienste in van God ontvang nie.

Verstaan jy? Dit is of geregtigheid deur die bloed van Jesus of deur jou werke(wat jy nie kan doen nie) wat Sy dood dan verniet sou laat plaasvind. Sien jouself geregverdig deur God (die geregtigheid van God).

Gebed:
Vader, dankie dat Jesus hierdie enorme prys vir my betaal het deur U groot genade! Dankie dat geregtigheid ‘n gratis geskenk is. Dankie dat ek in hierdie nuwe verhouding kan leef en U guns en seën in my lewe kan beleef.

Oordink:
Vertrou ek op Jesus vir my geregtigheid voor God of op my werke?