SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade
DAG 21 – JESUS MY FOKUSPUNT
Rom 10:17 [NLV] Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap. En die aanhoor van die boodskap volg uit die prediking van die Goeie Nuus wat handel oor Christus.
In hierdie nuwe verbond van genade kom ons in ‘n verhouding met Jesus die Seun van God. Vir baie is dit bloot ‘n verlosser wat my verlos het van die vloek van die wet en dat ek nie meer hel toe gaan nie. Hy is veel meer! Begin om te fokus (te mediteer) op die Woord wat Jesus aan ons bekendstel. Jesus is die Woord wat vlees geword het en ons kan Hom leer ken as liefdevol, in Sy afgehandelde werk, Sy vergifnis en in Sy genade. As ons hierdie Jesus in ons lewens het kan ons totale menswees verander.
Vat een vers op ‘n dag. Bv Psalm 23:1 [NLV] Die Here is my herder; daar is niks wat my ontbreek nie. Oordink dit. Leer Hom ken as die een wat in die teenswoordige my herder is. Hy sal vir my sorg en ek sal aan niks kortkom nie. Hy sal dus voorsien aan die rykdom van sy genade binne my huidige situasie en so word my geloof gebou tot op ‘n plek waar ek Sy genade begin sien in my lewe. Hierdie geloof word ‘n leefstyl en ‘n sterkte in nou lewe. So volg geloof uit die aanhoor van die boodskap. Wanneer dit geloof in jou hart is word dit ‘n anker en word jy ook ‘n draer van hierdie genade na ander om sodoende hulle lewens te raak.
Die Woord word vir jou ‘n werklikheid, teks vir teks en jou lewe verander sonder dat jy spartel en eie pogings aanwend. Die Woord, Jesus word vir jou daagliks ‘n lewende werklikheid en jou lewe begin in ‘n sukses verander! Jos 1:8 [NLV] Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees.
Ons dink ons is suksesvol as ons die eerste miljoen het, of darem ‘n huis en ‘n kar het en in die proses haat ons kinders die Here. Ware sukses is wanneer ons die Here toelaat om ons in alles te lei deur Sy Woord en die res sal volg. Leer om Jesus in die totale Bybel raak te sien (ou Testamentiese verwysings en beeld van Hom ingesluit). Laat dit jou geloof word!
As jy deurbrake in jou lewe wil beleef, hou op fokus op jou stryd, jou begeertes, jou tekortkominge. Niks hiervan kan vir jou sukses bewerk! Die afgehandelde werk van Jesus aan die kruis is wat die verskil maak en dit maak dat die ou en nuwe testamentiese beelde en beloftes nou ‘n werlikheid binne ons verhouding met God kan wees! Dit moet ons geloof vorm! Dis nie nuwe testament (goeie nuus) plus wette wat dinge in jou lewe gaan verander nie! Dit is geloof in die onverdiende genade van God wat vir jou en my ‘n werklikheid is!
Heb 12:2 [NLV] Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop.
Gebed:
Vader, dankie dat U weg, ‘n weg van rus is. Al wat ek moet doen is om op Jesus te fokus wat die begin en die voleinder van my geloof is. Dankie dat U my voetspore sal rigting gee. Dankie dat U my sal lei na plekke van oorwinning en deurbraak. Openbaar Jesus in en deur U Woord aan my soos ek U woord oordink. Dankie dat ek U liefde, Genade en guns kan leer ken en dat U vergifnis en onverdiende genade my deel is!
Oordink:
Wanneer ek op Jesus fokus, verander my menswees en totale lewe word geraak.
