DAGSTUKKIES – Dag 24

SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade

DAG 24- BEHOU JOU FOKUS

Matt 6:33 [AOV] Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Wat is die koninkryk van God? Rom 14:17 [AOV] Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees. As jy dus God se manier van doen soek, kyk jy na Jesus. Jy gee jou lewe aan Hom en ervaar Sy geregtigheid in jou lewe (Sy regverdigmaking) dan word hierdie dinge vir jou bygevoeg. Dan beleef jy geregtigheid, die vrede wat daarmee saam gaan, en die blydskap wat die Heilige Gees in jou lewe werk. Hierdie dinge verwys na wat jy sal eet en sal drink en sal aantrek. God sal vir jou sorg, want Hy aanvaar eienaarskap van jou, as jou Hemelse Vader. Hy stel in jou alledaagse nood belang en sal voorsien daarin.

Hou dus jou oë op die afgehandelde werk van Jesus aan die kruis en hy sal vir jou sorg. Hy sal byvoeg wat jy nodig het in die lewe. Hy word jou bron van sukses. Ons moet nie begin staatmaak op wat ons regkry of in misluk en God se voorsiening en sorg daaraan koppel nie. Ons moet suiwer ons fokus behou op die afgehandelde werk van Jesus aan die kruis as die bron en die sleutel tot God se voorsiening in ons lewens. Dit is SLEGS Sy geregtigheid wat seën bewerk en NIE Sy geregtigheid plus ons eie stel reëls nie.
God sorg vir die lelies in die veld en vir die mossie. Ons is Sy kinders en meer werd as hulle almal. Hy ryk met Sy liefdevolle hart na ons uit en wil vir ons as Sy kinders voorsien en sorg.

Gebed:
Laat U Koninkryk kom in my lewe, laat U geregtigheid my deel wees, U vrede in my hart heers, laat die blydskap in die Heilige Gees vandag oor my lewe spoel. Ek weet U sorg vir die mossie en ek is meer werd as hulle, U sal vir my sorg. Gee asseblief aan my ‘n groter openbaring van Jesus se geregtigheid! Ek begeer om daarin en vanuit dit te lewe.

Oordink:
Wanneer ek fokus op Jesus se geregtigheid, vrede en blydskap belowe God se Woord dat wat ek nodig het in die lewe daar sal wees vir my.