SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade
DAG 25 – WYSHEID OM DIE PAD TE LOOP
1 KOR 1:30 [NLV] Dit is deur God alleen dat julle nou aan Christus Jesus behoort. Dit is deur Hom dat Jesus vir ons die wysheid van God geword het, die Een deur wie God ons vrygespreek en vir Homself geheilig en vrygekoop het.
Dit is God wat onsself met Hom versoen het deur Christus te laat sterf vir ons. Ons kan wys lewe! Ons wandel nie meer in duisternis rond en wonder oor die hoe en wat van die lewe nie. Ons het al die wysheid om vandag suksesvol te kan wees in ons menswees.
Ons kan vanweë die feit dat ons voor God geheilig staan en vrygekoop is, vry van die bande van die verlede leef. Ons kan begin glo dat ons verhouding nou nuut is en dat ons beslis nie meer in die vrug van die ou verhouding hoef te leef en te wandel nie. Dit is ‘n totale nuwe lewe! Waar die ou lewenswandel ons besluite en rigting dikteer het kan ons nou die wysheid wat Jesus in ons lewens plaas, besluite neem en rigting bepaal.
Fil 2:13 [NLV] Dis mos God wat die gewilligheid en die vermoë in julle bewerk om te handel volgens wat Hy graag wil hê!
Hierdie wysheid kom nie net in insig oor die weg wat bewandel moet word nie, jy word ook die vermoë deur die Heilige Gees gegee om dit te doen. Skielik word dit nie meer ‘n stryd oor mag ek of mag ek nie, maar eerder ‘n bewustheid van wie ek is en waartoe ek instaat is.
‘n Pad kan nie geloop word met net wette en reëls nie. As jy daarop fokus gaan jy verseker struikel. In Amerika het hulle ‘n motorsport waar die karre teen ‘n hoe snelheid om ‘n baan jaag – rondom die baan is daar ‘n muur. Een van die eerste lesse wat hierdie bestuurders geleer word is, moenie na die muur kyk nie (want jy sal verseker daarin vasjaag). Vetrou op jou vermoë om te kan jaag. Leer vandag die les! Hou op om na reëls te soek van moet’s en moenie’s. Begin om in geloof die pad te journey wat voor jou lê deur die wysheid wat Jesus in jou hart plaas deur Sy Heilige Gees om altyd te kan weet hoe om reg te kies en in die vryheid te bly wat die Here ten duurste vir ons gekoop het.
Gebed:
Vader, dankie dat U my in Christus geplaas het en Hom in my! Nou kan ek altyd in wysheid wandel en weet om die regte keuses te maak. Daar is geen probleem wat ek nie kan oorkom nie. Daar is geen onsekerheid in my oor wat U wil is in my journey saam met U nie. Dankie dat U my wysheid is om elke dag die regte besluite te maak en reg te kan kies wanneer ek in versoeking en beproewing kom. Ek glo dat dit wat vandag nog dalk onseker in my hart is sal uitwerk soos wat ek op U vertrou om die wysheid te bekom om die regte keuses te maak.
Oordink:
Ek is in Christus en Hy is in my en daarom kan ek in wysheid wandel!
