SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade
DAG 27 – DIT IS GESKRYF OP JOU HART
Fil 2:13 [NLV] Dis mos God wat die gewilligheid en die vermoë in julle bewerk om te handel volgens wat Hy graag wil hê!
God maak dit vir ons moontlik om die pad te loop wat Hy wil hê ons moet loop. Ons hoef nie na profete te hardloop om uit te vind wat God se wil vir ons lewens is nie. God praat in ons harte. Dit is hoe ons liefdevolle Vader ons wil lei en help om die regte pad te loop. Hy skryf sy voorskrifte in ons harte en in ons gedagtes. Om Sy stem te hoor oor rigting en ja en nee is maklik deur die werking van die Heilige Gees in jou hart.
As jy Sy stem hoor oefen om dadelik te reageer. Jy sal vrug daarop ontwikkel en beleef hoe maklik dit is en hoe direk Sy leiding is. As jy in jou hart die oortuiging het om goed te doen, wees gehoorsaam. As jy mense moet seën finansieel, doen dit! Soms vrees ons omdat ons bang is vir mense se reaksie. Wees jy net gehoorsaam en doen wat die Here op jou hart lê en laat die res aan Hom oor.
In die eerste plek is dit God wat jou gewillig maak. Die klop aan jou hart om te doen, die wil om op te tree, nee vir versoeking te sê en die regte besluite te maak. Dan kom God en gee jou die vermoë en die krag om dit deur te voer. Sy Heilige Gees maak jou sterk om dinge aan te pak en te wen op terreine waar jy nie voorheen suksesvol was nie.
Jy het ‘n nuwe hart met nuwe insig en dit help jou op jou journey dat jy nie weer afdwaal na die ou weë nie.
Gebed:
Vader dankie dat U, U wil eenvoudig in my hart skryf. Dat ek dit maklik kan volg omdat U gees my daartoe in staat stel. Ek hoef nie te vrees nie, want U hou my vas en help my om nie te struikel nie. Ek kan met vertroue die pad stap. Wek die begeertes in my hart om U wil te doen, goed aan ander te doen en sodoende lewens met U genade te raak. Dankie dat U my lei vandag.
Oordink:
Jy kan net vra dat God Sy wil in jou hart sal wakker maak.
