DAGSTUKKIES – Dag 30

SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade

DAG 30 – GEEN AANKLAG MEER NIE

Rom 8:33 [NLV] Wie sal dit waag om ons aan te kla as God ons spesiaal uitgekies het? God is immers die een wat ons vryspreek.

Te veel van ons lewe ‘n substandaard lewe oor ons nie verstaan dat ons in ‘n Nuwe Verbond lewe nie. Ons verstaan nie dat ons verlede total mee gedeel is nie, dat ons vrygespreek en die geregtigheid van God ons deel is nie. Ons lewe soos ‘n motoris wat die heel tyd in sy tru-spieëltjie kyk. Dis gevaarlik, sy vooruitgang word belemmer en hy mis die plesier van die roete.

Daar is drie wat aankla. Satan sal gedurig aankla, hy sal verwys na die verlede en skuld voor jou deur en teleurstelling kom lê en as jy daarvoor val sal jy nie geestelik groei nie, want jy sal onder die las van sonde bly en die veroordeling wat daarmee saamgaan sal jou deel wees in jou gedagtes terwyl God jou vrygespreek het.

Tweedens kla jy jouself soms aan. Jy martel jouself geestelik en emosioneel vir foute wat jy begaan het. Jy kan nie die uitkoms verander deur jouself te martel nie. Jy kan slegs die uitkoms sien verander as jy op God staatmaak vir wysheid en krag om die dinge te hanteer en onder Sy genadige hand in te bring.

Derdens kla mense jou aan. Mense is lief om ander te veroordeel wat foute op ander terreine as hulle begaan. Jesus het ons uitdruklik geleer om nie ander te oordeel nie. Hy het geleer dat slegs die wat sonder sonde is ander mag oordeel. Daar mag niemand dit waag om jou aan te kla binne jou verhouding met God oor jou verlede as jy Jesus as jou Verlosser aangeneem het nie. God het jou vrygespreek en jy moet binne hierdie vryheid begin leef.

Onthou God gaan net die Goddelose oordeel, want vir ons is daar geen veroordeling op grond van die vryspraak wat Christus vir ons bewerk het aan die kruis.

Jy kan nie geestelike vryheid beleef as jy op elke aanklag reageer en stagneer nie. Ons is vrygespreek, leef as vrygespreekte sonder enige etiket van die verlede wat satan, jy self of ander op jou wil plaas. God het ons vrygespreek.

Gebed:
Vader dankie dat U my nie oordeel nie omdat U na Jesus se werk in my lewe kyk. Help my om nie toe te laat dat ek reageer op Satan, my eie en ander se aanklagte nie. Dankie dat U my vrygespreek het!

Oordink:
Ek is vrygespreek!