SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade
DAG 31 – GEEN VEROORDELING
Rom 8:1-2 [NLV] Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem. 2 Die lewegewende Gees is so magtig dat Hy jou deur Christus Jesus bevry het van die greep van die sonde wat uitloop op die dood.
Die grootste uitdaging in ons lewens is om te kan verstaan dat ons sonde van ons af weggeneem is. 1 Joh 4:10 [NLV] Dít is volmaakte liefde: nie dat ons vir God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun as versoeningsoffer gestuur het om ons sondes weg te neem. Die mens wil telkens ‘n “maar” byvoeg. As daar nog sonde ter sprake was, was daar veroordeling. Nou is ons sonde van ons af weggeneem deurdat Jesus die volmaakte versoeningsoffer gebring het.
Die wet met sy klagstaat teen ons is uitgewis. Kol 2:13b-14 [NLV] Hy het ons al ons sondes vergewe. 14 Hy het die dokument met voorskrifte wat as klagstaat teen ons gedien het, uitgevee en dit vir goed weggevat deur dit aan die kruis vas te spyker. Dus is daar geen skuldbrief, geen sonde en dus geen veroordeling.
My verlede is finaal verby. Ek kyk nie terug, want God kyk nie terug. Ek hou nie vas, want God het deur Sy magsdaad my vrygemaak van sonde, verlede en pyn.
Nou kan ons vry van die wet se klagstaat lewe. Die wet word nou vervang deur ‘n lewe gedryf deur die Heilige Gees. Omdat ons nou begin leef deur die Heilige Gees wat in ons werk kan ons loskom van enige greep wat ooit mag op ons gehad het. Omdat die greep van die wet op ons los is kan niks ons meer bind en vashou en weerhou van ‘n lewe wat skoon en geregverdig voor God is nie. Dit is ‘n werk van God en nie vanweë my goedheid nie.
Gebed:
Here, dankie dat daar vir my geen veroordeling is omdat ek glo dat Jesus se volmaakte werk aan die kruis, my sonde van my af weggeneem het. Dankie dat ek nou kan leef deur die werking van die Heilige Gees in my lewe.
Oordink:
Geen veroordeling, volkome vryspraak – laat dit ‘n slagspreuk in jou lewe wees.
