DAGSTUKKIES – Dag 32

SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade

DAG 32 – DAAR IS VREDE IN DIE VERHOUDING

1 Joh 4:18 [NLV] Volmaakte liefde het nie plek vir vrees nie; volmaakte liefde dryf die vrees uit omdat vrees nog met straf behep is, en wie aanhou vrees, het nog nie dié volmaakte liefde bemeester nie.

Jy kan nou geestelik en emosioneel groei en vry wees! Die Here gee jou Shalom (vrede)! Geen verhouding kan bestaan in en uit vrees nie. As jy gedurig vrees en straf verwag, is jou fokus op die verkeerde dinge. Jou fokus word dit wat verkeerd is/was en dan maak jy soms weer dieselfde fout. Volmaakte liefde dryf die vrees uit. Ons volmaakte liefde bestaan in ‘n God wat ons lief gehad het toe ons nog sondaars was en ons gered het en nou Sy kinders noem. As Sy kind het ek nie vrees nie! Ek weet my Hemelse Vader is lief vir my en sien die werk wat Christus gedoen het deur vir my te sterf! Ons verhouding is herstel en ek het geen meer vrees omdat ek met straf behep is nie! Ons noem dit ‘n verhouding wat gebou is op genade. Hoe meer jy die openbaring beleef dat God jou Liefdevolle Hemelse Vader is en dat Jesus die verhouding volkome herstel het, hoe meer beleef jy vrede en hoe meer val van die goed wat pla af omdat ek op Hom fokus en dit is net Hy wat my sielsmens volkome kan vrymaak. Ek kan myself nie red nie.

Jes 54:9-10 [NLV] “Dit is soos in die tyd van Noag toe Ek belowe het dat die waters nooit weer die aarde sal oorstroom nie. So belowe Ek nou dat Ek nooit weer kwaad sal wees en jou straf nie. Want die berge kan padgee en die heuwels verdwyn. Maar my liefde vir jou sal nooit verander nie, en my verbond van vrede sal nooit gebreek word nie,” sê die Here wat Hom oor jou ontferm.

Fil 4:7 [NLV] En God se vrede, wat meer is as wat ‘n mens dink, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou omdat julle aan Christus Jesus verbonde is.

Gebed:
Vader, gee my asb in hierdie dag die openbaring van U perfekte liefde vir my, sodat U volmaakte liefde enige vorm van vrees wat straf verwag, uit my lewe sal werp. Ek bely dat U nie wil hê dat ek in vrees moet lewe nie. Deurdat Jesus vir my gesterf het staan ek in ‘n nuwe verbond van genade en vrede waarin ek U kan leer ken en beleef as die God van liefde. Ek weet dat U Heilige Gees altyd by my is en my help om suksesvol te wees en te lewe.

Oordink:
God is nie kwaad vir my nie. Hy veroordeel my glad nie, maar het my onvoorwaardelik lief vanweë Jesus se volmaakte offer vir my.