SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade
DAG 33 – HOEKOM IS DIE BEWUSTHEID DAT JOU SONDE VERGEWE IS, BELANGRIK?
1 Joh 2:12 [NLV] Ek skryf aan julle, kinders: Julle sondes is vergewe op grond van wat Jesus vir ons gedoen het.
Soms wonder mense hoekom is die saak so belangrik? Eerstens, indien jy nie seker is dat jou sonde vergewe is nie dan is jou saligheid en waar jy die ewigheid gaan deurbring altyd ‘n onsekerheid in jou hart.
Tweedens, as daar nie ten volle met jou sonde gedeel is by die kruis van Golgota nie, dan kan jy nie met vrymoedigheid die teenwoordigheid van die Here geniet nie. Jy sal in vrees lewe en altyd wonder wanneer en hoe God jou gaan straf vir jou foute. Jy sal gedurig onwaardig voel as gevolg van jou daaglikse foute wat jy begaan en nooit die volle vreugde van kindskap kan ervaar nie.
Derdens, as jy nie glo dat Jesus met al jou sonde gedeel het nie, sal jy elke keer as jy faal glo dat jou verhouding met God nie meer reg is nie en die gevoel hê dat jy elke keer van voor af moet begin. Jy sal glo dat jou verbondenheid in die tye van die Here afgesny is. Jy sal dus konstant (daagliks) gebroke wees en verwyderd van God voel en dit is hier waar vrees en werk weer ‘n rol begin speel en jy weer op ‘n “treadmill” klim en nêrens kom in jou verhouding met God.
Jy sal konstant op ‘n emosionele swaai wees en nooit die vreugde en seën van Kind van God wees kan ervaar nie. God evalueer jou nie op die basis van jou gedrag nie. Hy sien Jesus in jou lewe. As hierdie bewustheid groei, vrees Godsdienstiges dat jy meer sonde sal doen. Die teendeel is waar, jy leef al hoe meer in oorwinning omdat sonde sy houvas op jou verloor het en jou fokus nie meer op jou foute en tekortkominge is nie, maar op Jesus wat jou verlos het.
Gebed:
Vader, dankie dat U my leer om op Jesus en Sy werk vir my gedoen te fokus en fees te vier oor my vergifnis sodat ek net meer en meer in oorwinning kan leef wat vir my bewerk is. Ek bid dat my verhouding met U my net nader aan die waarheid dat ek totaal vergewe is sal trek en dat hierdie fokus my sal help om net meer te leef soos wat U begeer dat ek sal leef.
Oordink:
Ek is totaal vergewe en vry om al die seëninge van kindskap van God te kan beleef vandag!
