DAGSTUKKIES – Dag 36

SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade

DAG 36 – JY KAN NET AANHOU EN AANHOU LOOP

Spreuke 24:16 [NLV] Selfs al val ‘n regverdige mens sewe keer, hy sal elke keer weer opstaan. Die Goddelose mens sal bly lê na net een ramp.

As jy leer om vanuit God se teenwoordigheid in jou lewe te wandel, sal jy Sy genade beleef wat jou help om suksevol te wees in elke tree, selfs nadat jy gestruikel het. Jy word soos ‘n rubberbal in water. Niks kan jou onder hou nie. Die genade van God sal jou altyd laat opskiet.

Moet nooit gaan lê as jy struikel of weer ‘n fout begaan het nie. Staan op en hou aan loop! Jou grootste vertrekpunt na oorwinnings kan juis die laagtepunt van jou lewe wees. Moenie toelaat dat jou struikeling jou definisie word van wie jy is nie. Moenie opgee nie! Dis nooit oor en verby met ‘n kind van God nie.

Daar bestaan nie ‘n terme in ‘n kind van God se lewe van “terugval” nie. Ons kan dalk struikel maar ons staan op en hou aan loop. Die Here se genade is genoeg om ons nooit te verlaat en alleen in die oomblik van struikeling te los nie. Hy laat vaar nie die werke van Sy hande nie en sal jou ophelp deur Sy wonderlike onverdiende GENADE en sal jou as geregverdigde nie veroordeel oor die feit dat jy gestruikel het nie.

Gebed:
Vader, dankie dat dit nooit oor en verby is in my lewe nie. Ek mag dalk ‘n laagtepunt beleef op hierdie oomblik, maar omdat U in my woon en altyd by my is sal ek deur U genade altyd guns en voorspoed beleef! U tel my op vanuit die put en plaas my op hoë grond. Elke struikeling se opstaan en aangaan maak my net sterker in my verhouding met U. Dankie dat ek weet ek is nooit alleen nie.

Oordink:
Dieselfde God wat Jesus uit die dood opgewek het, is by my nou! Ek gaan net beter af wees na elke opstaan omdat ek groei in my geloof.