SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade
DAG 39 – GOD IS BY JOU!
Matt 1:22-23 [NLV] Dit alles het gebeur om die Here se boodskap deur die profeet te laat uitkom: “Die maagd sal swanger word! Sy sal aan ‘n Seun geboorte gee. En die mense sal Hom Immanuel noem.” (Hierdie naam beteken: God is by ons.)
Jesus se Naam beteken dat die Almagtige God van genade met ons is! Wanneer die Almagtige Vader met jou is, moet goeie dinge mos met jou begin gebeur. In jou, om jou en deur jou!
Die lewe kan ons soms oorweldig, maar as ons net ons bewustheid kan kweek dat die liefdevolle God van genade is altyd by ons, dan kan ons alles oorwin wat ons pad langs kom.
Leer iets belangrik vandag. Weet dat al jou wilskrag, spartel, selfdissipline en eie pogings kan nie doen wat die teenwoordigheid van God in jou lewe kan bewerk nie in een oomblik nie. Jy word nie verander deur jou spartel en eie pogings nie. Dit is deur jou oë te plaas op Jesus wat ons Verlosser is, op Hom en Sy krag staat te maak met die wete Hy wil jou help en Hy wil jou suksesvol in die lewe laat wees.
Wat beteken dit dan om te sê God is met ons? Ons moet verstaan wat die Jode met hierdie begrip verstaan het. Hulle het verstaan dat as God met jou is word jy suksesvol op elke vlak van jou lewe en elke ding wat jy aanpak sal suksesvol uitdraai. Die Jode het geweet as hulle veg en die Here is by hulle sal hulle wen, as hulle saai en die Here is by hulle dan sal hulle groot oeste inbring. Dink aan Jerigo, dink aan Dawid en Goliat, dink aan Simson en die Filistyne.
As ons dan leer dat God met ons is, is dit nie ‘n cliché nie. Dis nie ‘n emosionele ervaring nie! Dit is God aan die werk in en deur ons en niks kan meer dieselfde wees nie.
God is by jou, nie om jou te veroordeel en af te skryf en fout te vind met jou nie. Hy is daar om jou lewe te raak deur Sy genade en jou te help, te lei, te ondersteun en te dra! Verwag dit vandag!
Gebed:
Hemelse Vader, dankie dat U by my is, altyd! Help my asseblief om te onthou dat spartel, wilskrag en self dissipline my nie oorwinning sal gee in my versoekinge, maar deur die kragtige werking van U Heilige Gees in en deur my is ek tot alles instaat. Dankie dat ek goeie dinge kan begin verwag vir my en my geliefdes omdat U by my is! Dankie vir hierdie genade.
Oordink:
Oorwinning kom nie deur my wilskrag, maar deur die krag van die Heilige Gees wat altyd in en deur my wil werk.
