SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade
DAG 42 – JY KAN REG KIES
Psalm 1:1 [NLV] Gelukkig is die mens wat nie loop volgens die raad van Goddeloses, of staan op die pad van sondaars, of sit in die vergadering van spotters nie.
Wysheid van God kom vanweë Sy onverdiende genade. Dit is nie iets wat jy kan bekom of voor studeer nie. Dis is beslis nie iets wat jy van die wêreld en vriende kan bekom nie. Jy kan baie selfhelp-boeke vandag bekom, maar die meeste van dit is gebasseer op menslike wysheid en is daarop gerig om die mens se vlees te bou. Ons het nie meer “self help” nodig, maar werklik God se hulp. Begin om boeke eerder te lees wat geskryf is deur Gees Vervulde skrywers as om agter die raad van mense en “celebrities” aan te loop. Dit is hartseer dat mense soms meer van Oprah se sê-goed weet as wat in die Woord van God staan. Mense neem groot besluite oor hulle huwelike, besighede, kinderopvoeding en finansies op grond van wat die “mense” sê, eerder as op grond van die Woord van God.
In ons Journey het ons werklik God nodig! Ons het Sy inspraak in ons lewens nodig! Psalm 1:2 [NLV] Hy vind egter vreugde in die gebooie van die Here en oordink sy voorskrifte dag en nag. Ons het nodig om die Woord van God in ons lewens konstant te oordink. Dit gee aan ons die wysheid om die regte keuses en besluite te neem.
Jou lewe sal verander, dit sal sigbaar wees. Psalm 1:3 [NLV] Hy is soos ‘n boom geplant langs waterstrome, wat vrugte dra op die regte tyd. Sy blare verwelk nie; in alles wat hy doen, is hy voorspoedig. Jou lewe verander van staan en val, na ‘n lewe van goeie besluite en ‘n besliste meer konstante wandel sonder om elke keer te struikel en seer te kry. Dit veroorsaak ‘n impak op elke faset van jou lewe en jy beleef vrede en sterkte in jou journey.
Maak die bewuste keuse om nie die raad van Goddelose mense te soek en te volg maar om persoonlik self by God te hoor en Sy wil te soek in Sy Woord en dit alleen as voorskrif te gebruik in jou wandel met Hom.
Gebed:
Vader, ek maak vandag die belsuit om op te hou om na die raad van die Goddelose te luister. Ek wil U wil soek en ervaar. Ek vra na U wysheid en insig en dat U my sal lei. Help my om my oë op Jesus gevestig te hou en afhanklik van die leiding van die Heilige Gees te lewe en te wandel. Dankie dat ek ook op U kan vertrou om Goddelike mense op my pad te stuur wat ook kan help om rigting in my lewe aan te dui. Ek weet dat ek soos ‘n boom geplant by die water sal wees en dat vrug in my lewe sigbaar sal wees.
Oordink:
Wanneer ek staatmaak op God vir wysheid sal ek geseënd wees met vrug en sukses in alles wat ek doen.
