SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade
DAG 8 – GENADE DIE GROOT GESKENK VAN GOD
Efes 2:8-9 [NLV] Dit is mos dié genade wat julle verlos het deurdat julle tot geloof gekom het. En julle verlossing kom nie uit julleself nie, maar is ‘n gawe van God. 9 Dit is nie die gevolg van julle dade nie. Niemand kan daaroor grootpraat nie.
Baie mense sê dat hulle glo. Dit is noodsaaklik om te kyk wat jy glo. Om hierdie geskenk van God te kan ontvang moet jy sekere goed in jou lewe uitklaar:
- Verstaan dat jy jouself nie kan red nie.
- Verstaan dat jy ‘n verlosser nodig het.
- Jesus aanneem as jou verlosser en redder.
- Hom innooi in jou lewe.
- Glo dat Hy in jou plek gesterf het en al jou sonde van jou af weggeneem het.
- Weet dat geen werke wat jy doen dit ooit kon bewerk nie.
Dit is wat die basis van jou geloof moet wees. Dan ontvang jy die ewige lewe en word jy geregverdig deur die afgehandelde werk van Jesus aan die kruis en staan jy voor God asof jy nooit sonde gedoen het nie. Die Woord leer ons dat Hy nooit weer aan jou sonde dink nie.
Moenie genade een kant toe skuif deur te dink jy kan jouself verbeter nie. As dit so was het Jesus verniet gesterf. Gal 2:20 [NLV] Ek verwerp nie dié genade van God nie. As dit moontlik was om deur God vrygespreek te word deur die wet te onderhou, het Christus mos verniet gesterf!
Jy moet onthou dat jy nooit voor God kan gaan staan en spog dat jy iets gedoen het om jou saligheid te bewerk nie. Dis ‘n geskenk.
Gebed:
Vader, dankie dat Jesus die geskenk van om in die regte verhouding met U te staan vir my bewerk het deur Sy dood aan die kruis. Dankie dat ek niks hoef te doen om dit te verkry behalwe deur te glo nie. Dankie dat as ek glo, staan ek geregverdig voor U en beleef ek U guns, genade en seën op my lewe.
Oordink:
Genade is ‘n geskenk en jy kan dit nie verdien deur iets te doen nie.
