Liefde Doen – Week 1 Dag 2

DANKBAAR
Dag 2

Kolossense 2:6-7 (NLV) – Noudat julle Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle lewe soos mense wat aan Hom verbonde is. 7 Bly in Christus geanker en bou op Hom, standvastig in die geloof soos julle geleer is, en loop oor van dankbaarheid.

Die woord, wat meestal in die hele Nuwe Testament vir dankbaarheid gebruik word, is die woord eucharistos. Dit is ’n samevoeging van twee woorde, eu, wat beteken “goed”, en charidzomai, wat beteken “om vryelik, ruim en oorvloedig te gee”. Dit beteken dus om “dank te betuig / uit te druk” en nie maar net om “dankbaar te voel / wees” nie. Die ander verwante woord is charis, wat ons vertaal met “dank”, maar ook soms met “gawe”, soos bv. die genadegawes wat die Gees gee.

Die gebruik van die genadegawes in ’n gelowige se lewe staan direk in verband met die mate van sy dankbaarheid teenoor God vir sy trou en verlossing. Dit is immers een van die konkreetste aktiewe uitleef en bewyse van die mate waarin die gelowige sy / haar eie verlossing verstaan en waardeer!!

Elke dag van my lewe word heeltemal gerig deur oorvloedige dankbaarheid wanneer ek liefde dóén. Dankbaarheid is dus nie ’n reaksie op iets wat iemand anders aan my gedoen het nie, maar eerder ’n reaksie op dit wat Jesus vír my gedoen het. Niemand verdien dus my oorvloedige dankbaarheid nie, maar ek kan nie anders nie, aangesien dit ’n outomatiese reaksie by my is op die liefde van Jesus vir my.

Oorvloedige dankbaarheid kan nooit ten volle tot sy reg kom en uitgedruk word met woorde nie, dus word dit uitgedruk in die gebruik van jou genadegawes in dade.

Gebed:
Here, ek dank U met woord en daad, met mond en hand, vir U liefde aan my bewys. Laat my lewe oorloop van die dankbaarheid in my hart. Amen.


Liefde Doen:
Gebruik een van jou genadegawes om aan ’n behoeftige persoon die oorvloed van jou dank te betoon.