DOEN EERSTE
Dag 3
Luk 10:33–34 [nlv] “Toe het ’n veragte Samaritaan verbygekom, en toe hy die man sien, het hy hom innig jammer gekry. Die Samaritaan kniel toe langs hom, behandel sy wonde met medisyne, en verbind dit. Toe het hy die man op sy eie donkie gehelp en hom na ’n herberg geneem en daar verder versorg.
Om eerste te doen, moet ek teenwoordig (present) wees. Hierdie is werklik die verhaal van liefde sien, nie net raak, hand opsteek, is in die omgewing nie, maar doen
Jare gelede tydens my studies by RAU moes ons ’n aantal klasse bywoon om eksamen toelating te verkry. Ons vriend Andrew het daarmee gesukkel aangesien hy saans erg gekuier het. Ons het hom op ’n kritieke dag saamgeneem na die Etiek klas toe, omdat hy nie eksamen toelating sou verkry as hy daardie dag sou misloop nie. Hy het op die vloer gelê tot sy naam genoem was. Hy het sy hand bokant die tafel uitgelig en geantwoord: “present but horizontal”. Ons het geskater van die lag en besef dit beteken nie veel nie.
Ons is soms in die doen eerste teenwoordig, maar nie regtig daar nie. Ons gee geld, maar doen self niks nie. Het ’n opinie maar daag nie op, op die impakvolle tye nie. Ons moet oefen om werklik teenwoordig te wees. Nie uit opdrag of gewete nie, maar met hart en siel. Dit is wat liefde doen. Jy doen meer as om net jou hand op te steek.
Jy kyk, jy luister en jy hoor met die liefdeshart van God binne jou, om ander om jou se nood en gebrokenheid met God se liefde nie net raak te sien nie, maar te dien en eerste te doen.
Die lewe van Job is verander toe hy vir sy vriende begin bid het. Job 42:10 [nlv] En die HERE het die lot van Job verander toe hy vir sy vriende gebid het; en die HERE het Job se besittings vermeerder tot dubbel soveel as voorheen.
Ons kan verwag dat ons lewens getransformeer sal word wanneer ons INVLOEDRYK liefde begin doen, deur werklik nie net waar te neem nie, maar toe te tree. Nie die “goedkoop” “ek bid vir jou” nie.
I used to want to fix people, but now I just want to be with them. – Bob Goff
Gebed:
Here help my deur U Gees om nie net my hand op te steek nie, maar ’n impak te maak deur te doen! Amen.
Liefde Doen:
Vra die Here by wie moet jy gaan teenwoordig wees, omdat hulle meer as net ’n “ek bid vir jou” nodig het.