ONVERDIENSTELIK
Dag 2
Matteus 9:11 -13 (NLV) – Hoe kan julle leermeester met sulke immorele karakters saameet?” 12 Toe Jesus dit hoor, sê Hy: “gesonde mense het die dokter nie nodig nie; die siekes wel. 13 Gaan leer wat dit beteken as die skrifwoord sê: ‘deernis is vir My baie belangriker as offerandes.’ Ek het gekom om sondaars na die koninkryk te nooi, nie mense wat dink dat hulle alreeds goed genoeg is nie.
Die wat gesond is kort nie ’n dokter nie. Verbeel jou vir een oomblik dat ons in ’n wêreld geleef het waar niemand en niks siek kon word, seer kon kry of kon doodgaan nie. Sou daar ’n beroep wees soos ’n dokter? Beslis nie! Hulle sou nutteloos wees in so ’n wêreld. So is dit ook met die koms van Jesus. Hy het na ons wêreld toe gekom, nie omdat die wêreld gesond is nie, maar omdat dit gebroke en siek is. Dit is juis daarom dat Hy saam met die bystanders, die “outcast” gekuier en tyd spandeer het; sodat hulle gesond kan word en God leer ken. Nie omdat hulle perfek is en dit verdien nie, maar omdat Hy vir hulle lief is.
So is dit ook met ons vandag – God kies ons sonder voorbehoud. Hy het ons gekies lank voordat ons Hom gekies het. Hy het aan die kruis vir ons gesterf, nie omdat ons dit verdien nie, maar uit sy groter genade. So moet ek en jy ook teenoor ander optree. Ons moet vir hulle lief wees en omgee, nie omdat hulle perfek is en al ons “check” bokse “tick” nie, maar omdat ons genade ontvang het.
Dit is wanneer ons besef dat God se genade onverdienstelik is, dat ons met dieselfde oë na ander kyk.
Gebed:
Here, dankie dat ons deur U groot genade gekies is. Help ons om mekaar ook deur U oë te sien.
Liefde Doen:
Neem ’n oomblik en dink aan God se genade in jou lewe. Gaan kyk na jou leefwêreld en vra God om jou te help om anders na die mense rondom jou te kyk, sodat ons kan bydra tot die genesing van die wêreld.