ONVERDIENSTELIK
Dag4
Lukas 17:7-10 – Sê nou een van julle het ‘n slaaf wat ploeg of vee oppas. Sal hy vir die slaaf sê as hy van die veld af inkom: ‘Kom eet eers gou’? 8 Natuurlik nie! Maar hy sal vir hom sê: ‘Maak vir my iets klaar vir aandete. Sit dan jou voorskoot aan en kom bedien my terwyl ek eet en drink. Daarna kan jy self eet en drink.’ 9 ’n Slaaf wat sy opdrag uitgevoer het, word mos nie bedank nie, of hoe? 10 So is dit ook met julle: as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.”
Om onverdienstelik te lewe vra van ons ’n genadige leefstyl, wat telkens bereid is om dié wat berou toon oor hulle dade, te vergewe. Dit vra ook ’n geloofslewe, wat gewortel is in God en ’n nederige lewenstyl waarin ons nie arrogant sal raak oor wat ons in die lewe bereik het nie. Uiteindelik behoort die lof aan God self, want als wat ons het, is bloot aan ons geskenk. Ons dien juis ander, omdat ons weet alles wat ons het, is bloot net deur genade aan ons gegee.
Dit gaan nie oor wat ek in ’n verhouding kan kry en wat my status is nie, maar eerder oor wat ek aan ander terug kan gee. Ek het ook nie nodig om iets te doen, sodat ek genade in ruil daarvoor kan kry nie. Dit is, was en sal altyd onverdienstelik aan ons gegee word.
Wat ek is, is net genade. Wat ek het, is net geleen.
Gebed:
Here, maak my lewe bruikbaar tot U diens. Gee dat ek nie deur hoogmoed en my eie selfsugtige begeertes gedryf word nie, maar deur U genade.
Liefde Doen:
Is daar nog spasie in jou lewe waar jy dinge as vanselfsprekend aanvaar, alhoewel jy dit eintlik nie verdien nie? Vra die Here om jou daarmee te help.