REGTE SKAAL
Dag 2
Markus 12:42 (AOV) – Daar het toe ‘n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd.
’n Invloedryke lewe word nie bepaal deur net groot indrukwekkende gebeurtenisse nie, maar ook deur die klein dingetjies in die lewe wat ons soms minag. Dikwels het die onbeduidendste dinge die grootste impak.
Twee muntstukke, ook bekend as oortjies, was onderskeidelik ’n kwartpennie werd. In ander se oё was dit min, maar in Jesus se oё baie werd.
In die verhaal van ’n olietenkskip wat naby die kus op die rotse geloop het, word die teendeel bewys. ’n Vrou met ’n oop hart vir mens en dier het elke dag oliebesmeerde seevoёls skoongemaak. Dag vir dag het sy voortgegaan, al was die vordering minimaal. ’n Siniese toeskouer het haar gevra, watter verskil sy aan die ekologiese ramp maak. Terwyl sy ’n skoon witgewaste seemeeu die lug instuur, het sy geantwoord: ‘’Vir hierdie een maak dit ’n verskil!’’.
Elke bietjie op jou skaal maak saak. Dit wat God vir jou gee, jou gawes, talente en bronne maak ’n groot verskil in ander se lewe.
Ons invloed kan op mikro-, sowel as makrovlak ’n groot verskil maak. Moet nie dit wat jy is en het, onderskat nie.
Selfs die klein dingetjies wat ons in liefde doen, kan die skaal na Sy kan laat kantel.
Gebed:
Vader, help my om sensitief te wees vir waar ek ’n verskil kan maak en iemand se lewe ten goede deur U liefde aan te raak.
Liefde Doen:
Wie op jou kontaklys het ondersteuning nodig? Bel die eerste persoon wat in jou gedagtes opkom.