REGTE SKAAL
Dag 4
2 Kronieke 15:7 (OAV) – ‘’Maar julle moet vasstaan en nie moedeloos word nie, want julle sal die beloning vir julle optrede ontvang.”
’n Reddingspan moes mynwerkers ondergronds red nadat ’n gang in die myn inmekaar gesak het. Na ’n week het die mynbestuur hulle die opdrag gegee dat hulle die reddingspoging moet staak, omdat daar geglo is dat daar nie meer oorlewendes kan wees nie. In die daaropvolgende weke is die soektog na die liggame voortgesit. Tot hulle ontsteltenis is die liggame van die vermiste werkers baie naby aan die plek gevind waar die soektog gestaak is. Indien hulle ’n rukkie langer probeer het sou hulle die mynwerkers kon red.
Ons word gou moedeloos wanneer ons nie vinnig resultate sien nie. Mense doen wat ons nie verwag nie, ons word teleurgestel, die situasie beweeg in ’n verkeerde rigting en ons moet oor begin of ons wen twee treё en beweeg drie tree agteruit…
Moenie moedeloos word nie, hou aan gewig op die skaal plaas. Dit mag dalk net vandag wees dat jou skaal na die regte kan kantel.
Die beloning is om die draai vir die verskil wat jy wil maak. Moenie moed opgee om die werk van die Here te doen nie.
Ek geniet die proses van liefde doen, al sien ek nie dadelik die resultate nie, weet ek dat, liefde wat doen, die skaal na die regte kan sal laat kantel.
Gebed:
Here, dankie dat U my die krag en die vermoё gee om aan te hou probeer.
Liefde Doen:
Bid vandag spesifiek dat God iemand op jou pad sal plaas aan iemand wie jy liefde kan betoon. Bid ook vir die insig en wysheid om die persoon te help.