DANKBAAR
Dag 5
Lukas 17:15-18 (NLV) – Een van hulle het, toe hy sien dat hy gesond geword het, omgedraai en God met ’n harde stem geloof. 16 Hy het op sy gesig aan Jesus se voete neergeval en Hom gedank. Hy was ’n Samaritaan. 17 Jesus antwoord hom toe: “Is daar dan nie tien gereinig nie? Waar is die ander nege? 18 Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te loof, behalwe hierdie vreemdeling nie?”
Dankbaarheid is glad nie ’n algemene verskynsel in die wêreld of ’n natuurlike kenmerk van die mens nie. ’n Sekere mate van refleksie is nodig vir ware en opregte dankbaarheid, want dit is ’n uitdrukking van onselfsugtigheid. Die selfsugtige en liefdelose persoon bedank nie omdat hy dink hy verdien die goeie ding wat hy ook al ontvang het. Die onselfsugtige en liefdevolle persoon, aan die ander kant, se fokus en besorgdheid is nie gerig op sy eie behoeftes nie. Watter goeie ding hy ook al van God of van ander mense ontvang, reken hy as onverdiend en genadig. Hy is altyd dankbaar, want sy gees is een van liefde en gee.
In plaas daarvan om ander te gebruik, dien hy hulle. In plaas daarvan om die onskuldige in die onsedelike te probeer verander, poog hy om die onsedelike te verander in wat regverdig en heilig is. Hy is dankbaar omdat die heilige lewe die bevredigende lewe is, en mense sien liefde vir God in die dankbare persoon.
As Christene vir enigiets bekend is, moet dit wees vir liefde wat tot God en ander uitgespreek word deur onophoudelike dankbaarheid (vgl. 1 Tess. 5:18, waar die opdrag duidelik is: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle verwag omdat julle met Christus Jesus verenig is.”).
Leef altyd dankbaar!!
Gebed:
Here, dankie dat U my nog nooit teleurgestel het nie. Vergewe my waar ek ondankbaar was of u handeling as vanselfsprekend aanvaar het.
Liefde Doen:
Reflekteer oor jou eie verlede en dank God vir sy liefde, versorging en voorsiening. Deel dit vandag met iemand.