DAGSTUKKIES – Dag 41

SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade

DAG 41 – OMDAT JESUS IN MY WOON – WOON MY BRON IN MY

JOH 15:7 [AOV] As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.

Twee sake van belang. Ten eerste is dat die verbinding aan Christus die keuse van jou en my is. Ons moet daagliks kies om aan Hom verbind te bly. Ons moet daaop staatmaak dat dit Hy is wat ons geregtigheid bewerk het en dat dit Hy is deur wie ons lewe. Die [NLV] As julle aan My verbind bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.

Tweedens moet God se woorde in jou bly. Nie jou insig en oorlewering van Godsdiens nie, want dit beroof ons van die wonderlike seëninge wat daar is in Jesus. Ons kan nie na God kom met ons eie Godsdiens en verwag dat God daarop moet reageer en ons daarvolgens seën nie.

God se voorsiening sal ons deel wees! Hy verbind Hom daartoe om vir ons as Sy geregverdigde kinders te sorg en te dra. Ons glo eerder die leuen van menslikke insette as om te glo dat God ons wil seën en wil gee die begeertes van ons harte.

Efes 1:3 [NLV] Deur wat Christus gedoen het, het Hy ons geseën met elke geestelike seëning wat daar in die hemelsfere is. Die sleutel is geleë in wat Christus gedoen het en nie in jou wettiese nakom van formules wat mense op jou pad gebring het nie. My seën hang beslis nie af van of ek alles regdoen nie, want as mens kan ek nie alles regdoen nie, maar die volmaakte leef nou in my. Ek is Sy tempel en hy stel my instaat om deur my verbondenheid aan Hom deel te hê aan Sy hemelse seëning.

Gebed:
Vader, dankie dat omdat Jesus en Sy woord in my woon ek nou nie as weeskind ‘n lewe van swaarkry hoef te leef nie. Ek dank U dat U die bron van alles is! Alles wat ek nodig het na gees, siel en liggaam nou in my woon en dat ek mag vra. Ek vra nou dat U my sal help om elke dag vanuit U seëninge te begin leef . Dankie dat as U my bron is, het ek oorvloed.

Oordink:
Jesus leef in my, ek het alles wat ek nodig het

DAGSTUKKIES – Dag 40

SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade

DAG 40 – SONDER JESUS KAN ONS NIE VRUG DRA NIE

Joh 15:5 [NLV] “Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.

Een les wat ons vandag moet vasmaak in ons harte: sonder die Here kan ons niks doen nie. As ons nie kan leer om op Jesus te vertrou om vrug te dra nie, gaan ons dit nie maak nie. Die Bybel leer ons in Psalm 127:1 dat as die Here die huis nie bou nie, ter vergeefs werk die wat daaraan bou. As ons wil groei, as ons vrug wil dra moet ons leer om op Hom staat te maak vir elke tree wat ons moet gee.

Wilskrag kan jou ‘n ent neem, maar iewers kom die verloor en teleurstellings en steel dit van ons. Gal 4:4 [NLV] Julle wat deur God vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, het julle van Christus losgemaak. Julle het God se genade verbeur.

Mense sê maklik dat as jy foute begaan verbeur jy God se genade. Jy verbeur God se genade as jy op jouself staatmaak om geregverdig te word. Dit is net deur die bloed van Jesus alleen. Dit is sterk woorde van waarskuwing. Sonder Hom kan ons niks doen nie. Jy verloor jou posisie van God se onverdiende genade as jy op jouself wil staatmaak om vrug te dra en self wil staatmaak om jou lewe in orde te bring. Jy sny die guns af as jy dit prober doen. Dit is uit en deur genade alleen.

Die Here is ‘n Heer (Gentlemen), hy forseer Homself op en in niemand se lewe nie. Jy maak die keuse om te onderwerp aan Hom, om afhanklik te lewe van Hom. Hy staan geduldig vir ons en wag om te leer om op Hom staat te maak vir ons groei en vooruitgang.

Kom ons leer vinnig dat sonder Jesus kan ons nie suksesvol wees nie, en Hy sal Hom nie in jou lewe in forseer nie. Hou op met jou stryd om dinge te wen, besef jy is in Hom en Hy is in jou en Met Hom is jy tot alles instaat. Gaan in Sy rus in en verstaan hoe meer jy op Hom staatmaak, hoe meer wenne sal in jou lewe plaasvind.

Gebed:
Liewe Here, ek erken vandag dat ek niks is sonder U nie, dat ek nie suksesvol kan wees sonder U in my lewe nie. Ek weet U woon in my, maar vandag bely ek dat ek dit soms vergeet en op my eie kragte wil staatmaak om verandering in my lewe te weeg te bring. Ek kies vandag om op U genade staat te maak. Ek wil U krag en teenwoordigheid in my lewe beleef.

Oordink:
Ek sal ophou om op eie kragte staat te maak en op die Here begin vertrou om my te verander