SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade…
DAG 5 – EK IS BAIE VERGEWE
Luk 7:47 [NLV] Ek sê vir jou, haar sondes – en dit is baie – is vergewe, omdat sy baie liefde aan My bewys het. Maar iemand vir wie min sondes vergewe is, betoon maar min liefde!”
In die gedeelte in Lukas 7 nooi Simon, ‘n Fariseër, Jesus na sy huis. ‘n Vrou kom na Jesus en ween en was Sy voete met haar trane en droog dit af met haar hare en salf Sy voete met olie. Toe Simon dit sien sê Simon vir homself: “Dit bewys dat Jesus geen profeet is nie. As God hom werklik gestuur het, sou hy geweet het watter soort vrou hom aanraak. Sy is ‘n sondaar!” Jesus antwoord hom: “Simon, Ek het iets om vir jou te sê.” “Reg, Meneer,” het Simon geantwoord, “sê maar.” Jesus vertel hom toe die volgende verhaal: “‘n Man het vir twee mense geld geleen – 500 rand vir die een, en 50 vir die ander. Maar nie een van die twee kon hom terugbetaal nie; hy het dus maar al twee oorgesien en hulle skuld afgeskryf. Wie dink jy het hom daarna die meeste liefde bewys?” Simon het geantwoord: “Ek veronderstel die een vir wie hy die meeste skuld afgeskryf het.” “Dis reg,” het Jesus gesê. Hy het toe na die vrou gedraai en vir Simon gesê: “Kyk na hierdie vrou. Toe Ek jou huis ingekom het, het jy My nie water aangebied om die stof van my voete af te was nie, maar sy het hulle met haar trane gewas en met haar hare afgedroog. Jy het My nie met ‘n soen verwelkom nie, maar sy het My voete weer en weer gesoen vandat Ek hier ingekom het. Jy het nie My kop met gewone olyfolie gesalf nie, maar sy het my voete met kosbare olie gesalf. Ek sê vir jou, haar sondes – en dit is baie – is vergewe, omdat sy baie liefde aan My bewys het. Maar iemand vir wie min sondes vergewe is, betoon maar min liefde!”
‘n Besef dat jy baie vergewe is plaas jou in ‘n liefdesverhouding wat jou dryfveer sal wees om aan die Here jou beste te gee. Die grootste “gevaar” van die radikale liefde en genade van God en die feit dat Hy jou verlos en regverdig verklaar is daarin geleë dat jy hals oor kop op Hom sal verlief raak en Hom sal dien met jou hele hart. As jy jouself as regverdig ag en dink dat jy min vergeef is, sal jy min liefhê. Onthou al jou sonde van die verlede, jou foute van die hede en alles van die toekoms is 2000 jaar gelede reeds gehanteer. Die vergifnis word nou ons s’n deur dit te glo.
Gebed:
Vader, dankie dat ek vandag opnuut kan besef dat ek baie vergewe is. Dankie dat U vergifnis nie in paaiemente is nie maar dat my totale verhouding met U herstel is en dat ek U kind is! Ek wil ‘n oomblik stilstaan en U aanbid met alles wat in my is!
Oordink:
Jy is volkome gered deur radikale liefde! Die wete dat ek vir baie vergewe is maak opnuut liefde vir God in my hart wakker.
