DAGSTUKKIES – Dag 38

SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van Genade

DAG 38 – VRYSPRAAK SÊ DAT GOD ALTYD MET JOU SAL WEES

Heb 13:5 [NLV] Onthou dat God die versekering gegee het: “Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.”

Daar was ‘n tyd onder die wet in die Ou Testament waar God net met jou sou wees as jy total gehoorsaam is en Sy voorskrifte nagekom het. Wanneer jy sou faal sou jy van God verlate gewees het. Ons staan nou in ‘n totale nuwe verbond. Vanweë wat Jesus aan die kruis vir ons gedoen het staan ons nou in ‘n verhouding waar die Here belowe dat Hy ons nooit sal los nie. Vandag leef ons in ‘n verhouding met God waar Hy konstant teenwoordig in ons lewens is. Wanneer jy reg doen, is Hy met jou. As jy faal, is Hy steeds met jou.
Toe Jesus uitroep aan die Kruis: “My God, my God waarom het U my verlaat” Matt 27:46 het die Goddelike uitruiling van ons lot plaasgevind. Jesus was verwyder van God se teenwoordgheid as gevolg van ons sonde sodat ons in Sy wonderlike teenwoordigheid kan leef. Heb 13:6 [NLV] Daarom kan ons moed skep en antwoord: “Die Here is my hulp; daarom sal ek nie bang wees nie.

Die implikasie in my lewe is dat al gaan ek deur watter situasie, as gevolg van die feit dat ek in geregtigheid voor God staan, is Hy altyd by my. Hy sal my nooit alleen laat nie! Ek hoef nooit weer te vrees vir dit wat my pad langs kom nie.

Hierdie sin in die oorspronklik Grieks is in die dubbel negatief geskryf, nooit, nooit! Dit is die sterkste vorm van uitdrukking rondom God se voorneme om by jou te wees. Die Griekse woord “om me” beteken “nooit, nooit” of “nooit ooit.”

Die Amplified Bybel vertaal dit korrek Heb 13:5 [AMP] for He [God] Himself has said, I will not in any way fail you nor give you up nor leave you without support. [I will] not, [I will] not, [I will] not in any degree leave you helpless nor forsake nor let [you] down (relax My hold on you)! [Assuredly not!]

Dit is wat Jesus vir ons bewerk het in die verhouding van geregtigheid. Laat jou hart rustig word, die Here is met jou en sal jou nie los nie. Hy sal Sy werk in jou lewe klaarmaak. Geen mens en geen omstandigheid kan hierdie werklikheid van jou af wegneem nie.

Gebed:
Vader, dankie dat ek hierdie konstante teenwoordigheid van U kan beleef as gevolg van die Goddelike ruiltransaksie van Jesus op Golgota. Of ek nou op ‘n hoogtepunt of op ‘n laagtepunt in my lewe is, reg opgetree het of foute begaan het, U is by my. U teenwoordigheid bewerk vrede in my lewe en daarom het ek niks om te vrees nie.

Oordink:
God sal nooit ooit, op enige manier, in enige graad, my hulpeloos laat en alleen los nie.