DAGSTUKKIE Week 1 – Dag 3

INVLOEDRYK – elkEEN wen EEN

DAG 3 – ALMAL

“Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefgehad het.”  Johannes 15:12

“Love everybody, always.” — Bob Goff

Ons is baie goed daarmee om mense lief te hê wat maklik is om lief te hê.
Mense wat soos ons dink.
Mense wat ons waardeer.
Mense wat ons verstaan.
Mense wat ons ook waardeer.
Maar Jesus se liefde was groter as dit.

Hy het mense RAAKgesien wat ander mense afgeskryf het. Hy het aan tafels gesit waar ander nie wou sit nie. Hy het tyd gemaak vir mense wat ander mense as onbelangrik beskou het.

Dit is een van die uitdagings van kerkwees.
Want die kerk kan maklik ’n plek word waar mense wat reeds binne is, gemaklik voel — terwyl mense wat buite staan wonder of daar plek vir hulle is.
Maar Jesus se kerk het ruimte vir mense wat nog soek.
Vir mense wat twyfel.
Vir mense wat seergekry het.
Vir mense wat ver van God voel.
Vir mense wat nie weet hoe kerk werk nie.
Vir mense wat anders as ons is.

Miskien is dit vandag die uitdaging:  Wie is die persoon wat jy maklik vermy, maar wat Jesus jou dalk vra om RAAK te sien?

Ons hoef nie almal se keuses goed te keur om hulle lief te hê nie.  Ons kan mense liefhê omdat Jesus hulle liefhet.

Refleksie:
Is daar iemand wat jy moeilik vind om lief te hê? Wat sou dit vandag beteken om daardie persoon deur Jesus se oë te sien?