DAGSTUKKIE Week 1 – Dag 4

INVLOEDRYK – elkEEN wen EEN

DAG 4 – MAAK RUIMTE

“Verwelkom mekaar dan, soos Christus julle ook verwelkom het.”  Romeine 15:7

“We make room for people.” — Bob Goff

Daar is iets besonders aan ’n plek waar jy nie hoef voor te gee nie.  ’n Plek waar jy kan asemhaal.

Waar jy nie eers alles hoef uit te sorteer voordat jy welkom is nie.  Waar iemand nie vra: “Hoekom is jy so?” voordat hulle vra: “Hoe gaan dit met jou?”

Dit is deel van wat kerk behoort te wees.  Nie ’n plek waar almal klaar is nie.
Maar ’n plek waar mense op hulle eie tempo kan groei.

Jesus het mense ontmoet waar hulle was. Hy het hulle nie daar gelos nie, maar Hy het hulle ook nie eers gevra om hulleself reg te maak voordat Hy hulle liefgehad het nie.

Dalk is dit een van die mooiste dinge wat ons vir iemand kan gee:  ruimte.
Ruimte om vrae te vra.
Ruimte om stil te wees.
Ruimte om weer te probeer.
Ruimte om te genees.
Ruimte om stadig weer vertroue te kry.
Ruimte om weer hulle plek in die familie te vind.
Jy hoef nie vandag iemand se hele lewe reg te maak nie.
Miskien moet jy net vir hulle ’n veilige plek wees waar hulle kan begin.

Refleksie:
Wie in jou wêreld het dalk nie vandag ’n oplossing nodig nie, maar net ’n veilige mens wat ruimte vir hulle maak?