DAGSTUKKIES – Dag 11

SY GENADE…MY STORIE – Die Ongeforseerde Ritme van genade

DAG 11 – JY LEEF NOU IN DIE VERBOND VAN GENADE

Heb 8:13 [NLV] Deur van ‘n nuwe verbond te praat het God die vorige een as uitgedien verklaar. En wat uitgedien is en steeds nog verder verouder, staan gereed om heeltemal afgeskaf te word.

Jy leef nou onder ‘n nuwe verbond van God se GENADE in Jesus Christus se afgehandelde werk aan die kruis. Die ou verbond was gebasseer op werke en is nou uitgedien verklaar. Lees hierdie teks weer, dit is nie ‘n vreemde leer van Danie wat hier ter sprake is nie. Dit is God se Woord wat so sê. Die wet is nie meer relevant in die Nuwe Testamentiese gelowige se lewe nie. Kyk wat sê vers 7 van Heb 8. “As die eerste verbond perfek gewerk het, sou daar geen behoefte aan ‘n tweede een gewees het nie.”

Ons moet rondom die onderwerp ophou na die dinge kyk deur ons kerklike bril of deur ons tradisie. Solank ons dit ons teologie laat bepaal bly ons in gebondenheid van die Wet met sy voorskrifte. Jesus het ons deur Sy GENADE vrygekoop van die voorskrifte en die vloek wat op die gerus het wat dit nie nagekom het nie. As die wet gewerk het sou Jesus nie so brutaal moes sterf aan ‘n hout kruis nie. Hoekom sou Jesus bereid wees om so ‘n duur prys te betaal?

God het geweet dat geen mens deur die onderhouding van die wet geregverdig kon word nie. Al wat die wet vir ons kan sê is dat ons Jesus se verlossende genade in ons lewens nodig het. Gal 3:24-25 [AOV] 24Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. 25Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ’n tugmeester nie.

Dit is hier waar jy waarlik vry word. Ons weet nou dat ons verlos is deur die GENADE van God en nie deur ons werk nie en daar is nie meer die stel reëls wat ons veroordeel nie. Nou word ek van binne na buite verander omdat ek leef vanuit die verbond van genade. Nou kan die slegste van alle sondaars na God kom en verander word. As ons Jesus aanroep as ons verlosser word ons nuut en skoon gemaak deur die GENADE van God en word ons regverdig verklaar deur geloof te hê in Jesus as ons Verlosser! Onder die wet het die beste gefaal (dink aan Dawid), maar onder genade kan die slegste gered word!

Gebed:
Vader, dankie dat ek in ‘n nuwe verhouding staan. Nie onder die wet nie maar onder genade! Dankie dat dit my lewe verander en dat ek U seën nou kan ervaar en daaruit begin leef en verander word. Dankie dat ek ook U guns kan beleef, nie omdat ek ‘n stel reëls nakom nie, maar omdat ek U genade beleef en daaruit begin leef!
Dankie dat Jesus hierdie nuwe verhouding vir my bewerk het deur ‘n afgehandelde werk aan die kruis! Vandag rus ek in U GENADE en weet ek, ek is geregverdig deur die bloed van Jesus.

Oordink:
Die wet veroordeel my op my beste. Genade red my toe ek verlore was en gee aan my God se vrede, heelheid en sukses.