INVLOEDRYK – elkEEN wen EEN
DAG 1 – MEER AS WOORDE
“Laat ons nie net met woorde en met die tong liefhê nie, maar met die daad en in waarheid.” 1 Johannes 3:18
“What if the message isn’t just what we say, but what people experience?”
Ons het ’n boodskap. Die goeie nuus van Jesus.
Genade. Vergifnis. Hoop. Herstel. ’n Nuwe lewe.
Ons moet dit vertel. Ons moet daaroor praat. Ons moet nie skaam wees vir die evangelie nie. Maar daar is iets wat maklik kan gebeur.
Ons kan so besig raak om die boodskap te verduidelik, dat mense nooit die boodskap ervaar nie.
Dink aan Jesus. Hy het gepreek. Maar Hy het ook mense gevoed.
Hy het gepraat oor genade. Maar Hy het ook mense aangeraak.
Hy het oor God se Koninkryk gepraat. Maar Hy het ook by mense se tafels gaan sit.
Hy het die waarheid verkondig. Maar mense het ook sy liefde ervaar.
Dit is die krag van ’n boodskap wat geleef word. Mense moet nie net by ons hoor dat God goed is nie. Hulle behoort iets van God se goedheid aan ons te kan beleef.
Ons woorde en ons lewe behoort dieselfde boodskap te vertel.
Want wanneer ons sê: “God is genadig,”
maar ons is genadeloos met mense, word die boodskap deur ons lewe vertroebel.
Wanneer ons sê: “Jesus verwelkom mense,” maar ons sluit mense uit, hoor mense iets anders.
Die boodskap van Jesus is te belangrik om net met ons monde te dra.
Ons moet dit met ons lewens dra.
Refleksie:
As iemand vandag net na jou optrede kon kyk, sonder om jou woorde te hoor, watter boodskap oor Jesus sou hulle ontvang?
