DAGSTUKKIE Week 3 – Dag 2

INVLOEDRYK – elkEEN wen EEN

DAG 2 – JESUS HET AAN TAFELS GESIT

 “Die Seun van die Mens het gekom en geëet en gedrink…”  Lukas 7:34

“There’s something about a table that makes room for people.”

Jesus het baie tyd aan tafels deurgebring.  Nie net by die mense wat almal van gehou het nie.  Hy het by tollenaars geëet.  By mense wat deur die samelewing afgeskryf is.  By mense wat godsdienstige mense ongemaklik gemaak het.

Die tafel was vir Jesus meer as net ’n plek om te eet.
Dit was ’n plek van konneksie.
’n Plek waar mense gesien is.
’n Plek waar stories gedeel is.
’n Plek waar mense welkom gevoel het.
Dalk het ons soms die boodskap van Jesus ingewikkelder gemaak as wat dit hoef te wees.

Want soms begin die evangelie eenvoudig met:  “Kom sit by my.”
Nie: “Maak eers jou lewe reg.”
Nie: “Bewys eers dat jy behoort.”
Nie:  “Word eers soos ons.” Maar:  “Kom sit.”

Daar is mense rondom jou wat dalk nie vandag ’n preek nodig het nie.
Hulle het dalk ’n tafel nodig.
’n Koffie.
’n Gesprek.
’n Veilige plek.
Iemand wat luister.
Iemand wat nie dadelik probeer om hulle reg te maak nie.
Jesus het mense dikwels by ’n tafel ontmoet voordat Hy hulle lewe verander het.
Miskien is daar vandag iemand wat jy na jou tafel kan nooi.

Refleksie:
Wie kan jy hierdie week ’n plek aan jou “tafel” gee — fisies of figuurlik?