DAGSTUKKIE Week 5 – Dag 1

INVLOEDRYK – elkEEN wen EEN

DAG 1 – DIE KERK GAAN

“Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels…”  Matteus 28:19

“Church isn’t a place we go to. It’s a people who go.”

Ons dink maklik aan kerk as die plek waarheen ons gaan. Ons gaan na ’n byeenkoms. Ons gaan kerk toe. Ons gaan aanbid. Ons gaan luister.  Maar Jesus se opdrag eindig nie met “kom” nie. Dit eindig met “gaan”.

Die kerk is nooit bedoel om net binne ’n gebou te bestaan nie. Ons kom bymekaar om God te ontmoet, mekaar te versterk en toegerus te word – en dan gaan ons terug na ons wêreld.

Jou huis is ’n sendingveld. Jou werk is ’n sendingveld. Jou familie, jou vriendekring, jou straat en selfs die plekke waar jy elke dag inkopies doen, is ruimtes waar mense Jesus deur jou kan ontmoet.

Jy hoef nie ’n preek te lewer om die evangelie te dra nie. Soms begin dit met ’n gesprek, ’n koppie koffie, ’n oproep, ’n oop deur, ’n helpende hand of iemand wat net voel: “Hierdie mens sien my.”
Die kerk gaan wanneer ons gaan.

Refleksie:
Waarheen stuur God jou elke dag waar jy dalk nog nooit gedink het jy is “kerk” nie?