INVLOEDRYK – elkEEN wen EEN
DAG 2 – VAN DIE TEMPEL NA DIE TAFEL
“Hulle het elke dag getrou saamgekom in die tempel … en in hulle huise het hulle saam geëet…” Handelinge 2:46
“People may forget what you said, but they remember how you made them feel.”
Die eerste kerk het nie net in die tempel gebly nie. Hulle het van die tempel na die huise beweeg. Van die groot byeenkoms na die klein tafel. Van aanbidding na verhoudings.
Daar is iets besonders aan ’n tafel. Mense sit. Hulle praat. Hulle luister. Hulle lag. Hulle deel hulle stories. Hulle leer mekaar ken.
Dalk is dit een van die eenvoudigste maniere waarop jy hierdie week invloedryk kan wees: maak plek aan jou tafel. Dit hoef nie ’n groot ete te wees nie. Dit kan ’n koffie wees. ’n Braai. ’n Gesprek na werk. ’n Boodskap aan iemand wat jy lanklaas gesien het.
Jesus het mense dikwels rondom tafels ontmoet. Want mense het nie net waarheid nodig gehad nie. Hulle het ’n plek nodig gehad waar hulle kon behoort.
Die vraag is nie net: “Wie nooi ek kerk toe?” nie.
Die vraag is ook: “Wie nooi ek in my lewe in?”
Refleksie:
Wie kan jy hierdie week nader trek deur eenvoudig vir hulle plek aan jou tafel, in jou huis of in jou lewe te maak?
