DAGSTUKKIE Week 1 – Dag 5

INVLOEDRYK – elkEEN wen EEN

DAG 5 – KAN HULLE JESUS SIEN?

“Julle is die lig vir die wêreld.”  Matteus 5:14

“What if the world could read our lives?” — Bob Goff

Ons kan baie dinge oor Jesus sê.
Ons kan die regte Bybelverse ken.
Ons kan die regte woorde gebruik.
Ons kan weet wat ons glo.

Maar Jesus het nooit bedoel dat sy volgelinge net oor Hom moet praat nie.
Hy het gesê:  “Julle is die lig vir die wêreld.”

Lig hoef nie te verduidelik dat dit lig is nie.
Dit skyn.
Dit is dalk die eenvoudigste toets vir ons kerkwees:
Wanneer mense met my te doen kry, wat ervaar hulle?
Wanneer ek kwaad is?
Wanneer iemand my teleurstel?
Wanneer ek met iemand praat wat niks vir my kan terugdoen nie?
Wanneer ek met iemand werk wat heeltemal anders as ek is?
Wanneer ek iemand se geheim ken?
Wanneer ek die mag het om iemand klein te maak?
Kan iemand dan iets van Jesus in my sien?

Invloedryk wees beteken nie om bekend te wees nie.  Dit beteken nie dat duisende mense jou moet ken nie.  Dit beteken dat die mense wat jou wel ken, iets van Jesus se liefde, genade, waarheid en karakter in jou lewe begin RAAKsien. 

Miskien is dit die grootste uitdaging van hierdie week:  Laat jou lewe iemand se eerste kennismaking met Jesus wees.

Refleksie:
As iemand jou lewe vir een week kon “lees”, wat sou hulle oor Jesus daarin RAAKgesien het?