DAGSTUKKIE Week 1 – Dag 2

INVLOEDRYK – elkEEN wen EEN

Dag 2 – LIEFDE DOEN

“Laat ons nie net praat oor liefde nie; laat ons dit met woord en daad bewys.” 1 Johannes 3:18

“Love does.” — Bob Goff

Dit is maklik om oor liefde te praat. Ons kan sê ons gee om. Ons kan iemand vertel dat ons vir hulle bid. Ons kan selfs sê: “Laat weet as ek iets kan doen.”

Maar liefde word eers sigbaar wanneer dit iets doen. Iemand wat honger is, het nie net ’n gesprek oor kos nodig nie. Iemand wat alleen is, het nie net ’n boodskap nodig wat sê: “Ek dink aan jou” nie. Iemand wat deur ’n moeilike tyd gaan, het soms nodig dat iemand eenvoudig langs hom of haar kom sit.

Jesus het liefde nooit net verkondig nie. Hy het dit aangeRAAK. Hy het dit gevoer. Hy het dit geluister. Hy het mense RAAKgesien wat ander mense verbygeloop het.

Dit is waar kerkwees interessant RAAK. Want die wêreld hoef nie net te hoor dat Christene liefdevol is nie.

Hulle moet dit kan ervaar. Miskien is daar vandag iemand in jou wêreld wat nie ’n groot gebaar nodig het nie. Net ’n oproep. ’n Boodskap. ’n Bord kos. ’n Rit. ’n Bietjie tyd. ’n Oop oor.
Moenie wag vir ’n groot geleentheid om Jesus se liefde te wys nie. Begin klein. Liefde doen.

Refleksie:
Wie in jou wêreld het vandag nie net jou woorde van liefde nodig nie, maar jou liefde in aksie?