DAGSTUKKIE Week 1 – Dag 1

INVLOEDRYK – elkEEN wen EEN

DAG 1 – MEER AS ’N GEBOU

“Julle is die liggaam van Christus, en elkeen van julle is ’n deel daarvan.”  1 Korintiërs 12:27

“The church isn’t a building. It’s people.” — Bob Goff

Wanneer ons die woord kerk hoor, dink ons maklik aan ’n gebou. ’n Plek met ’n verhoog, stoele, ’n koffiewinkel, kinderruimtes en ’n parkeerterrein.

Maar die kerk was nog nooit in die eerste plek ’n gebou nie.

Die kerk is mense.
Mense wat Jesus volg. Mense wat saam leer. Mense wat saam huil en lag. Mense wat mekaar dra wanneer die lewe swaar RAAK. Mense wat soms foute maak, mekaar vergewe en weer probeer.

Dit beteken dat kerkwees nie begin wanneer jy deur ’n kerkdeur stap nie. Dit begin wanneer jy as ’n volgeling van Jesus besluit om sy manier van leef jou manier van leef te maak.
Jy is dus nie net iemand wat kerk toe gaan nie.
Jy is deel van die kerk.
Dit verander die vraag.
Nie net: “Wat kry ek by die kerk?” nie.
Maar ook:  “Wat bring ek na die kerk?”

Jou teenwoordigheid. Jou gawes. Jou stories. Jou liefde. Jou tyd. Jou bereidwilligheid om iemand anders te help.

Die kerk word sigbaar wanneer gewone mense besluit om Jesus se liefde in gewone plekke uit te leef.

Refleksie:
Waar kan jy vandag die kerk wees eerder as om net kerk toe te gaan?