DAGSTUKKIE Week 2 – Dag 1

INVLOEDRYK – elkEEN wen EEN

DAG 1 – DIT GAAN NIE OOR MY NIE

“Moenie net aan julle eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.”  Filippense 2:4

“Love is never about what we can get. It’s always about what we can give.”

Ons leef in ’n wêreld wat ons voortdurend leer om na onsself te kyk.
Wat wil ek hê?
Wat maak my gelukkig?
Wat kry ek daaruit?
Wat doen hulle vir my?

Selfs kerk kan maklik daaroor begin gaan.
Was die musiek goed?
Het ek iets gekry uit die boodskap?
Was ek welkom?
Was daar iets vir my kinders?
Het iemand met my gepraat?

Natuurlik is dit belangrik dat mense welkom voel. Die kerk behoort ’n plek te wees waar mense God se genade ervaar. Maar Jesus draai die vraag uiteindelik om.
Nie net:  “Wat kan ek hier kry?”  maar:  “Wie kan ek vandag dien?”

Dit is wat Paulus in Filippense 2 beskryf. Hy wys na Jesus — die Een wat Homself verneder het en die belange van ander eerste gestel het.
Dit beteken nie dat jy nie saak maak nie.
Dit beteken dat jou lewe nie net om jou hoef te draai nie.
Daar is iets bevrydend daarin om op te hou vra: “Wat kry ek?”
en te begin vra: “Wat kan ek gee?”

Want wanneer ons leer om vir ander te leef, begin ons iets van Jesus se hart ontdek.

Refleksie:
Waar in jou lewe het jy dalk onbewustelik begin vra: “Wat kry ek hieruit?” eerder as: “Hoe kan ek iemand anders dien?”